ADVERTISEMENT:

 

Gelukkig het dié "grote" weggekom

 

News  Date: 24 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Vir Tienie Viljoen is karp-hengel 'n saak van erns. Hy stel lankal nie meer belang in karps onder 17 kilogram nie. Hy soek na die grotes, maar so amper-amper het een van die "grotes" hom gevang.

Tienie vertel dat hy en sy skoonseun, Gerrie van Deventer van Gauteng, twee weke gelede gaan lyn natmaak het by die Tzaneendam. Maandag, 6 Oktober, omstreeks 03:30 het hulle wakker geskrik van 'n skreeuende katrol.

Tienie het opgespring en vir sy skoonseun geskreeu: "Gerrie, dis joune!"

Gerrie het uitgehardloop en gekap. Daar was geen twyfel nie, dit was 'n groot een!

"Gerrie het hard gespook, maar die lyn het net bly afhardloop. In 'n stadium het hy egter geskreeu dat die 'vis' gedraai het en op pad was kant toe," vertel Tienie.

Intussen het Tienie die kragopwekker gaan aanskakel, die skepnet gevat en water se kant toe begin stap. Min het Tienie en Gerrie geweet wat op hulle wag.

"Die volgende oomblik storm 'n volgroeide seekoei vanuit die water op my af. Ons het alles, die skepnet en visstokke, net daar laat val en gemaak vir die bakkie. Ek het geweet die karavaan waarin ons oornag het sal nie veel skuiling bied teen 'n omgekrapte seekoei nie."

Tienie en Gerrie het in hul bakkie gaan wegkruip. Die seekoei het intussen die stormloop opgegee. Heelwat later eers het Tienie en Gerrie weer teruggekeer na hul vistokke toe.

"Die 'groot' een het weggekom. Ons het in elk geval nie die regte toerusting en 'n groot genoeg skepnet gehad het," skerts Tienie. Hy maak egter geen geheim daarvan dat hulle baie groot geskrik het. Hulle het intussen verneem dat daar twee volgroeide seekoeie met 'n kalf in die presiese omgewing hou waar hulle gevang het. Die vermoede bestaan dat die een seekoei se voet in die vislyne verstrengel geraak het, terwyl hulle besig was om onderwater te wei.

Tog was die twee hengelaars se hengeltog nie sonder beloning. Later dieselfde dag het Tienie en Gerrie twee reuse karps van digby die 17 kilogram uit die water gehaal. Die kleinste karp wat hulle gevang het, was net oor die 15 kilogram.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines