

ADVERTISEMENT:

News Date: 24 October 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Vrywillige verkopers van Levubugrond oorweeg drastiese maatreëls indien die Levubu-eis nog nie teen Maart 2004 afgehandel is nie.
Twee groepe grondeienaars, die Laatsgevonden en Levubu 15 vrywillige verkopers, het besluit dat indien die proses nie teen die teikendatum afgehandel is nie, die Minister van Grondsake en die President versoek sal word om die proklamasie van 2000 op te hef. In April 2000 is die grond in Levubu in die Staatskoerant geproklameer seinde onderhewig te wees aan eise.
Hierdie twee groeperings van grondeienaars, wat in April 2003 saamgestel is, stem ooreen met die eisgebiede van twee afsonderlike eisersgroepe. Die Muhanelwas eis Laatsgevonden en die Masakonas het eise op die Levubu 15 gebied. Hierdeur is die taak van die Grondkommissie aansienlik vergemaklik. Groter eenstemmigheid ten opsigte van toekomstige volhoubare produksie en opleiding van voornemende nuwe boere kon bereik word.
Op 29 Augustus vanjaar het die Limpopo Streek Grondeise Kommissie 'n vergadering in Louis Trichardt gehou met grondeienaars en grondeisers om vir die soveelste keer die afhandelingsproses op die tafel te plaas. Deur goeie bemiddeling het die grondeisers ook hulle onderlinge verskille ten opsigte van grense en prosedures bygelê. Die amptenary van die Kommissie stel 'n duidelike rooster van prosedures wat gevolg gaan word om die Levubu-eis teen Maart 2004 af te handel. Hierdie rooster het byval gevind by die grondeienaars sowel as die grondeisers.
"Ons vertrou dat politici op alle vlakke van die regering van die verloop van die moontlike afhandeling van die grondeise in Levubu sal kennis neem. Vrywillige verkopers wil graag meewerk om die grondhervorming te laat slaag soos vervat in Artikel 25 ten opsigte van eiendom in die Grondwet," sê 'n woordvoerder van die twee groeperings van vrywillige verkopers. Daar is besluit dat woordvoerders voortaan nie hulle name bekend sal maak nie, nadat mnr. Piet de Jager van die plaas Laatsgevonden op 27 September wreedaardig op sy plaas vermoor is. Hy was een van die onwillige verkopers.
Die vrywillige verkopers wil die proses nou afgehandel hê, sodat die boere met hulle boerdery kan voortgaan. Grondeienaars wil uitbreidings aanbring en in staat wees om Euro-uitvoervereistes van verskillende kommoditeite na te kom. Terwyl daar grondeise is, mag die grondeienaars nie geboue oprig of die grond verkoop sonder toestemming van die Grondeisekommissie nie. Op 'n vraag of die boere bang is dat die fondse vir die grondhervormingsproses sal opraak, was die woordvoerder se antwoord negatief.
Grondeienaars sê dat die proses nou lank genoeg gesloer het. Op die heel eerste vergadering in 2000 het die vrywillige verkopers al duidelik te kenne gegee dat hulle geen verborge agenda het nie. Tydens hierdie eerste vergadering in Thohoyandou was daar eensydigheid, misverstand en selfs vyandigheid tussen die rolspelers te bespeur. Dit was duidelik dat die kommissie nog onkundig was met betrekking tot die hantering en afhandeling van die proses. Grondeisers was vasbeslote om hul regte in dié verband te verklaar, maar prosedures en organisatoriese vermoëns het ontbreek. Op hul beurt het grondeienaars die eise as inmenging in hul regte beskou.
Vanaf 2000 het politici op alle vlakke begin om grondeienaars te beskuldig van onwilligheid om hul grond aan te bied vir grondhervorming. "Tot op datum is politici nog steeds besig met beskuldigings en word ondeurdagte, oningeligte grondwaardes deur die media uitbasuin, terwyl nog geen grondeienaar in Levubu hieroor deur die kommissie genader is nie," sê 'n woordvoerder.
Gedurende 2002 is verskeie voorleggings deur Groep 23 aan die Grondeise Kommissie oorhandig. Daar is opnuut 'n program van aksie en afhandeling voorgelê tydens 'n vergadering tussen grondeienaars en grondeisers in Oktober verlede jaar. Nadat weinig resultate na vore gekom het, het eisers en grondeienaars se frustrasie toegeneem. Amptenare in die kommissie se kantoor in Polokwane het ook gedurig verwissel. Die Laatsgevonden- en Levubu 15-groep vertrou tans dat hierdie derde poging om afhandeling te bewerkstellig, sal slaag.
Die kommunikasiehoof van die Limpopo Streek Grondeise Kommissie in Polokwane, mnr. Moses Rannditsheni, het hierdie week gesê dat hy hom nie tot 'n spesifieke datum kan verbind ten opsigte van die afhandeling van eise nie. "Ek hoop dat ons daardie vrywillige verkopers kan prioritiseer," het Rannditsheni gesê, nadat hy eers uitgewei het oor die onwillige verkopers. Hy het ook gesê dat Levubu 'n uitnemende landboustreek is en dat hervestiging nie beplan word nie. Daar word eerder gekyk na jarelange vennootskappe tussen die nuwe grondbesitters en die vorige grondeienaars.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
