

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 May 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Bouery tot amper teen die straat by die Departement van Justisie in Munnikstraat word met belangstelling deur die publiek gade geslaan.
Landdros Sakkie Scheepers, kantoorhoof van die Departement van Justisie, het meer lig gewerp op hierdie projek van R4,1miljoen.
Die beplanning vir die opgradering van die kantoor van die Departement van Justisie, veral ten opsigte van sekuriteit, is al nege jaar gelede gedoen met Hans Beetge as argitek. Die hele kantoor word basies herbou met die oog op die veiligheid van die personeel en die publiek. Die veranderings behels ook dat prisoniers nie meer oop en bloot deur die publiek gelei sal word nie. Die aanhoudingselle sal op standaard gebring word volgens polisie spesifikasies. Die kontantsaal word omskep in 'n fasiliteit met beter sekuriteit en 'n palissade sal ook vir veiligheid opgerig word. Daar was al heelwat inbrake in die departement van Justisie waar daar van kantoor tot kantoor ingebreek is. In die algemeen het landdroste ook 'n teiken vir misdadigers geword het.
"Die Departement van Justisie sal nie meer vanaf die ander departemente toeganklik wees nie. Die aanbouings aan die straatkant is hoofsaaklik die sekuriteitskontrolekamer," sê Landdros Scheepers.
'n Baie groot verbetering by die "nuwe" gebou sal die toeganklikheid vir gestremdes wees.
"Daar sal 'n hysbak in die gebou wees en baie aandag is gegee aan toegang vir gestremdes," sê Scheepers.
Die kontrak vir die bouwerk wat in Januarie begin het, is vir tien maande. Voltooiing van die projek kan dus moontlik teen Oktober verwag word.

ADVERTISEMENT:
