ADVERTISEMENT:

 

Knellende droogte sorg vir waterbeperkings, oesverliese

 

News  Date: 17 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Uiterse streng waterbeperkings is verlede Vrydag (10de) as noodmaatreël in die dorp afgekondig, om voorsiening te maak vir dringende herstelwerk aan die hoof watervoorsieningspyplyn vanaf die Albasinidam.

'n Totale verbod op die gebruik van tuinslange, vir watter doel ookal, is geldig tot 31 Oktober vanjaar. Volgens 'n omsendbrief, uitgereik deur die Makhado Munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, mag water slegs vir huishoudelike gebruik aangewend word. Die streng waterbeperkings is ingestel vanweë 'n lekkasie aan die hoof watervoorsieningpyplyn vanaf die Albasinidam, asook die lae vlak van die Raad se boorgatstelsel. Die Raad het Woensdag bevestig dat die lek aan die hoofpyplyn reeds Dinsdag herstel is. Hulle het ook gerugte ontken dat die dorp vir 'n dag of twee sonder water kon wees as gevolg van die lekkasie. In dié verband het die Raad se Direkteur Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, die versekering gegee dat daar nie 'n watertekort sal ontstaan nie.

Die strenger waterbeperkings is voorafgegaan deur meer gematigde waterbeperkings wat op provinsiale vlak aangekondig is deur die Departement van Waterwese en Bosbou. Alle munisipaliteite is versoek om, vanweë die ernstige droogte in die provinsie, aan die waterbeperkings gehoor te gee. Vroeër vanjaar is verskeie distrikte in die provinsie reeds tot rampgebiede verklaar. Dit sluit in Soutpansberg, Blouberg, Musina, Alldays en Lephalale (Ellisras). Terselfdertyd het die regering etlike miljoene rande beskikbaar gestel aan kommunale boere vir die subsidiëring van noodvoer. Kommersiële boere vind egter nie baat by hierdie subsidies nie.

Die heersende droogte word vergelyk met die groot droogte van 1983. Die afgelope paar maande se reënvalsyfer voorspel ook niks goed nie. Augustus se reënvalsyfers was die swakste in 26 jaar. Intussen het die Albasinidam se damvlak die afgelope week tot by die 50%-kerf gedaal.

Dit is veral vee- en wildboere wat die ergste geraak word deur die droogte. Noord van die Soutpansberg lyk die prentjie maar somber. Mnr. Gideon Meiring, ondervoorsitter van die Soutpansberg Distrikslanbou-unie en boer naby Mopane, het Woensdag gesê dat, buiten vir noodvoer aan vee, talle boere ook reeds begin het om hul wild te voer. Die koste-implikasie hiervan is enorm, gesien in die lig daarvan dat 'n baal voer nou reeds sowat R50 kos. Een bees eet sowat twee dae aan een van hierdie bale. Boere met kuddes van honderde beeste dok dus maandeliks reeds duisende rande op, uit hulle eie sak. Volgens mnr. Meiring het baie boere ook reeds begin met die afskaling van hul kuddes. Dit is duidelik dat, indien dit nie gou reën nie, sake nog verder sal verswak. 'n Massiewe hoeveelheid veevrektes het reeds plaasgevind, veral onder kommunale boere. Mnr. Meiring het gesê dat geen regeringshulp beskikbaar is vir kommersiële boere nie. Daar is egter wel regeringshulp in die vorm van subsidies vir kommunale boere. Volgens mnr. Meiring is dit onverstaanbaar waarom die regering slegs kommunale boere behulpsaam is, terwyl kommersiële boere die grootste bydrae lewer tot die land se ekonomie.

Op Levubu word daar na die droë toestande verwys as die "Groen Droogte". Levubu is bekend vir sy groen subtropiese natuurskoon. Volgens mnr. Stephen Hoffman, 'n boer van die omgewing, het daar die afgelope twee jaar minder reën geval is die normale jaarlikse gemiddeld. Hy sê die area ontvang gemiddeld net oor die 900mm per jaar. Die afgelope twee seisoene het hulle nog nie eers 700mm reën ontvang nie. Hy het bygevoeg dat boere wat uit die Albasinidam besproei, ook reeds gerantsoeneer word en die kans bestaan dat alle besproeiingsaktiwiteite uit die dam dalk gestaak sal word indien dit nie gou reën nie. Intussen wek die droogte ook kommer ten opsigte van oeste. Hyself vertel dat vrugset by sy makadamias 'n paar weke gelede begin het, maar dat bome begin om hul neute af te gooi vanweë stres ten opsigte van die warm temperature en droogte. Hy sê dat indien dit gou reën, verliese darem nog beperk kan word.

Prof. Peet Pienaar, beter bekend as die land se eie weerprofeet, het die afgelope week egter 'n sprankie hoop gebring vir inwoners van die droogtegeteisterde gebiede. Prof. Pienaar het tydens 'n telefoniese onderhoud Maandagaand gesê dat nuwe weerpatrone 'n invloei van baie vogtige lug na die streek sal hê. Hy het voorspel dat goeie reën heel moontlik rondom 25 en 26 Oktober oor die streek sal uitsak.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines