ADVERTISEMENT:

 

Hoërskool Louis Trichardt spog met drie trofeë wat hulle by die Graad 12-toekenningseremonie op 5 Januarie by Bolivia Lodge ontvang het. Die skool se adjunkhoof, me. Elsa Kriek, staan by die trofeë. Die skool eindig onder die top 30 skole in die provinsie ten opsigte van slaagsyfer, sowel as ´n elfde plek ten opsigte van die persentasie kandidate wat universiteitstoelating ontvang. Verder is die skool op die Klub 50-lys vir skole wat meer as 50 leerders het wat wiskunde en fisiese wetenskap slaag.

Triegies onder top 30 met 143 onderskeidings

 

News  Date: 16 January 2012

 

Hoërskool Louis Trichardt is weer onder die top 30 skole in Limpopo na afloop van die 2011 nasionale senior sertifikaat eksamen en spog met ‘n totaal van 143 A-simbole.

Die skool lewer ook die leerder met die meeste onderskeidings in die provinsie op, met Julian Venter se prestasie van 10 onderskeidings.

Nog ‘n individuele trofee gaan aan Lutendo  Dexter Mugagadeli, wat die beste prestasie in wiskundige geletterdheid (97%) in Limpopo behaal. Mugagadeli spog met ses onderskeidings.

Van die 151 Graad 12-leerders wat matriek geskryf het, het 148 die paal gehaal en aan die skool ‘n slaagsyfer van 98% besorg. Dit plaas die skool in die 26ste posisie in die provinsie.  Wanneer die leerders wat universiteitstoelating ontvang  het in ag geneem word, neem die skool die 11de plek in Limpopo in met 92 uit die 151 leerders wat universiteit toe kan gaan.  Die skool verskyn ook op die Klub 50-lys vir skole waar meer as 50 leerders slaag in Wiskunde en Fisiese Wetenskap.

Buiten die 143 A-simbole, behaal die Triegies ook 211 B-simbole.

Julian met sy tien onderskeidings en Willem Kotze met sewe (sien berigte elders in koerant) staan bo aan die lys van toppresteerders. Dan is daar twee leerders met ses onderskeidings elk, twee met vyf elk, vier met vier elk en vyf met drie elk.

Lutendo se ses onderskeidings is vir Tshivenda huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskundige geletterdheid, lewenswetenskap, fisiese wetenskap en lewensoriëntering. Lutendo is aanvaar by die Universiteit van die Witwatersrand vir ‘n graad in regte, maar is besig met aansoeke om medies te studeer by Medunsa of B.Comm by die Universiteit van Johannesburg. Lutendo se hartsbegeerte is om ‘n mediese dokter te word.

Lurina Visser spog met ses A’s in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskundige geletterdheid, gasvryheidstudies en toerisme. Lurina wil graag menslike hulpbronbestuur oor die pos studeer. Sy het reeds verhuis na Secunda, waar sy ‘n betrekking wil bekom.

Mashudu Kruger en Jeremy Rademeyer het elkeen vyf onderskeidings behaal. Mashudu se A-simbole is vir Afrikaans eerste addisionele taal, wiskunde, wiskunde 3, rekeningkunde en lewensoriëntering. Mashudu pak haar tasse om in Skotland ‘n breekjaar te doen by ‘n Christelike Buitelugsentrum. Jeremy wil homself as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam en is op pad na die Universiteit van Kaapstad. Sy A-simbole is vir Afrikaans eerste addisionele taal, fisiese wetenskap, rekeningkunde, ekonomie en lewensoriëntering.

Die leerders wat vier onderskeidings behaal het, is Vhutali Kone, Mulonde Lidzhade, Carla Beetge en Almoné de Villiers. Liné de Wet, Arina Fick, Tharien Guillaume, Vernon Harding en Dirk van der Berg het elkeen drie A’s.

“Ons is tevrede met die uitslae. Daar was baie kinders wat baie moeite gedoen het en hulle het bo verwagting goed gedoen. Ons is trots op al die onderskeidings en is bly dat die meeste top kandidate die onderskeidings gekry het waarop hulle gehoop het. Ons is jammer vir diegene wat ongelukkig was om 79% in een of meer vakke te kry, aangesien die beleid nou is dat geen vakke meer gekondoneer word nie.  Die slaagsyfer is ook hoër as verlede jaar. Op die ou einde is dit belangrik dat die skool in al die kategorieë onder die top 30 geëindig het,” het die skoolhoof, mnr. Henry Denner, Dinsdag gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines