ADVERTISEMENT:

 

Skenkings nodig om reaksiemag se voertuig te herstel

 

News  Date: 17 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Reaksiemagvoertuig vir die Soutpansberg Kommando kan eersdaags gereedgemaak word sodra 'n uitstaande bedrag van R2 500 geïn word.

'n Skenking van 'n 4X4-voertuig is deur die kommando ontvang. Hierdie voertuig word omskep in 'n reaksiemagvoertuig en het R20 000 se werk aan die enjin gehad. Geld vir die projek het ingestroom en daar kort nog R2 500 vir die afhandeling daarvan. Kol. Ben Wolf, bevelvoerder van die Soutpansberg Kommando, het toestemming vir hierdie projek verleen. Met die afskaal van die kommando se begroting van ongeveer 1,8 miljoen Rand na net oor die R500 000, is daar ook van die pantservoertuie van die kommando weggeneem.

"Daar het dus 'n behoefte aan 'n reaksiemagvoertuig ontstaan. Ons het nie 'n betroubare voertuig nie. Hierdie voertuig wat geskenk is, sal verander word in 'n mobiele operasionele voertuig met alle nodige toerusting. Dit gaan daaroor om die bevelselement vinnig op 'n sentrale punt te bring," sê majoor Peet Visser van die Soutpansberg Kommando.

Wanneer 'n persoon vanaf 'n plaashuis byvoorbeeld hulp benodig met die opspoor van aanvallers, tree die reaksiemagvoertuig dadelik op en word die beheerpunt vanwaar die operasie beheer word. Kaarte word uitgesit en daar word presies vasgestel waar ontsnappingsroetes is, wat dan dadelik afgesper kan word. Die nodige toerusting word in die reaksiemagvoertuig ingebou, insluitend radio's vir grond- en grond-tot-lugverbinding, padblokkadetoerusting en mediese toerusting. Alhoewel die hoofdoel van die voertuig is om as reaksiemagvoertuig gebruik te word, kan dit ook gebruik word by 'n ongeluk waar die SAPD of Verkeersafdeling die kommando se hulp benodig. Verder voer die kommando ook patrollies uit om die weermag se teenwoordigheid te vertoon in die dorp tydens die Desembervakansie.

Persone wat op een of ander wyse wil help met hierdie projek, kan majoor Peet Visser skakel by tel. (015) 516 0208 of 084 400 9636.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines