

ADVERTISEMENT:

News Date: 17 October 2003
Ons het by 'n kruispad gekom; waarheen nou? Dit is die vraag wat 'n groep geestelike leiers van die dorp aan die regering vra, na aanleiding van die toename in geweldsmisdade in die streek. Die groep het hulle sterk uitgespreek teenoor die plaasaanvalle, moorde, rooftogte en korrupsie wat hoogty vier.
In 'n dokument wat deur twaalf geestelike leiers in Makhado (Louis Trichardt) onderteken is, spreek hulle hul kommer uit oor die toename in wetteloosheid. "Ons is ontevrede met die veiligheid op die plase, sowel as die dorpe. Dit is ons mening dat misdadigers se regte sodanig verskans word, dat dit oortreders aanmoedig om in hierdie misdade te volhard. Tereg word erken dat minder as 10% van die misdadigers gestraf word."
Die geestelike leiers meld dat onwettige immigrante 'n probleem is, wat die land se ekonomie ernstige skade berokken. "Ons word dus nie net deur geweldenaars bedreig nie, maar ook deur armoede, dreigende hongersnood en werkloosheid. Hierdie situasie het vir ons onhoudbaar geword."
Die verskillende dominees het hulle verbind tot dialoog ten einde die probleme aan te spreek. "Die Bybel maan ons … om nie kwaad met kwaad te vergeld nie, maar om dit aan die Here oor te laat … Dit roep die gelowige op om nie kwaad te doen nie, maar goed … Die Bybel vra dat ons vir die owerheid sal bid, sodat ons in vrede mag lewe."
'n Beroep is op die owerheid gedoen om verantwoordelik te regeer en die bevolking te beskerm teen misdaad en geweld. In die geestelike leiers se skrywe, vra hulle dat die regering immigrasiebeheer strenger toepas, korrupsie uitroei en die waardes en belange van alle bevolkingsgroepe respekteer.

ADVERTISEMENT:
