

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 December 2002
SOUTPANSBERG – Inwoners het die afgelope week behoorlik gebruik van hul somerklere gemaak, vanweë 'n intense hittegolf wat die langnaweek ingelui het. Dit was veral inwoners op Musina wat die ergste deurgeloop het.
Op Sondag, 15 Desember het die kwik op Musina gestyg tot 41ºC. Vrydag (13de), Saterdag (14de) en Maandag (16de) se temperature het onderskeidelik gewissel tussen 37.8ºC, 38.5ºC en 39.5ºC. Volgens 'n woordvoerder van die Messina Proefplaas is die hoogste temperatuur wat hierdie jaar daar gemeet is 41.3ºC. Maandag (16de) het dit dag en nag warm gebly, met 'n minimum temperatuur van 26.4ºC en 'n gemiddelde temperatuur van 33ºC.
In Musina is dit in Desember selfs om 08:00 al lekker warm, met temperature wat al oor die 30ºC kan klim. In Desembers 1997 en 2000 is gemiddelde oggendtemperature van 32.2ºC en 31.3ºC aangeteken.
By die Mara Navorsingstasie het die humiditeit die naweek gestyg tot 76%, toe daar tesame met die hoë temperature ook 40mm reën geval het. Op Sondag is 'n temperatuur van 37.2ºC gemeet, terwyl dit op Vrydag en Saterdag respektiewelik 34.1ºC en 34.6ºC was. In die aande het die kwik darem meestal gedaal tot onder die 20ºC, sodat die gemiddelde temperature vir dag en nag so in die middel en hoë twintigs gelê het. Die 40mm reën is die helfte van die normale reënval vir die ooreenstemmende tydperk in vorige jare.
By die weerstasie op die plaas Citimba, 2km van Royal Macadamia en 30km van Louis Trichardt het 'n humiditeit van so hoog as 80% die aanvoelbare temperatuur aansienlik verhoog. Op Sondag (15de) het die kwik daar gestyg tot 36.2º C.
Sondag was ook in Thohoyandou die warmste dag van die langnaweek, met 'n temperatuur van 36.9ºC. Op die ander dae het die temperatuur bo 33ºC rond geboer. Geen reën is vir die naweek aangeteken nie. Volgens die Weerkantoor in Pretoria is die normale reënval vir die ooreenstemmende tydperk 128mm. Die meeste reën wat daar nog op 'n enkele dag in Desembermaand uitgesak het, was 279.8mm in Desember 1998. Die Desember net voor die vloede het geen reën opgelewer nie, terwyl die hoogste reënval op een dag in Februarie 2000 altesaam 1016.2 mm was.
Prof. Peet Pienaar, Suid-Afrika se eie weerprofeet, sê hy dink dat dit die 27ste Desember gaan reën. Prof. Pienaar reken dat Desember natter gaan wees as wat hy aanvanklik gedink het.
"Omdat November so droog was, het die lente nie geëindig nie, maar inbeweeg in Desember. Verder moet 'n mens besef dat die sonsverduistering 'n groot invloed op die weerpatrone uitoefen. Die gravitasiekrag van die maan en die son is saam uitgeoefen, waar hulle gravitasie normaalweg ewe sterk is, soos wanneer 'n mens toutrek," verduidelik prof. Pienaar.

ADVERTISEMENT:
