ADVERTISEMENT:

 

Meule se man loop deur onder kapers

 

News  Date: 20 December 2002

 

LOUIS TRICHARDT – Nadat 'n verkoopsverteenwoordiger van Zoutpansberg Meule (ZMC) drie keer in vier weke gru ondervindings met kapers beleef het, beplan ZMC om 'n elektroniese bankstelsel te implementeer.

'n Wit Toyota bakkie met drie gewapende mans agter op, het mnr. Rudolf Raath van ZMC, wie se werksarea ook die Tzaneen-omgewing insluit, op 12 November ongeveer 5 km van Soekmekaar van die pad probeer trek. Een van hulle het sy vuurwapen teen Raath se venster gedruk, maar deur onmiddellik te rem en 'n vinnige U-draai te maak, het mnr. Raath ontsnap

Op die 26ste November het dieselfde groep kapers mnr. Raath by die Nkowankowa-kruising oorval. Mnr. Raath was besig om met 'n kliënt op die selfoon te praat. Twee kapers het weerskante van hom ingespring en vuurwapens in sy sye gedruk. 'n Derde kaper, agter op die bakkie, het ook sy vuurwapen deur die venstertjie op Raath gerig. 'n Skoot is binne die bakkie afgetrek, maar niemand is beseer nie.

"Ek is beveel om met my hande oor my bors gekruis te sit en niks aan te vang nie. Hulle het my ook gevra waarom ek die vorige keer weggejaag het. Op daardie stadium het hulle baie aggressief voorgekom," vertel mnr. Raath.

Vir meer as twee ure het die kapers met hul slagoffer rondgejaag en hom geterroriseer. Die boewe het mnr. Raath beroof van al sy persoonlike besittings en kontant, asook maatskappykontant van R500. Terwyl twee hom aangehou het, het die derde 'n geleentheid na die bank georganiseer en R2 000 uit mnr. Raath se kredietkaart gaan trek.

"Die kapers was kort-kort in verbinding met ander op hulle selfone," vertel mnr. Raath. "Daarna het hulle my na 'n afgeleë plek geneem en ek het besef dat hulle my van kant kon maak. Ek het die hele tyd in my benoudheid gebid," sê mnr. Raath. Intussen het die kliënt met wie mnr. Raath oor die selfoon gepraat het tydens die kaping, met ZMC in verbinding getree.

Die kapers het toe na 'n urelange nagmerrie ervaring gekalmeer, uit sy voertuig geklim en gesê hy moet gaan. Mnr. Raath het toe die saak by die Ritavi polisiestasie aangemeld.

Op 5de Desember was mnr. Raath en 'n gewapende wag weer in dieselfde omgewing. Toe hy spoed verminder vir 'n draai in die pad, wag vier gewapende mans hom in. Hulle het 'n aantal skote afgevuur op die bakkie, maar die koeëls wat die voorruit getref het, het weggeskram. Die gewapende wag het teruggevuur, terwyl mnr. Raath met kop omlaag in die bosse ingejaag het. 'n Pap band het veroorsaak dat die bakkie teen 'n boom tot stilstand gekom het, waarna hulle te voet ontvlug het.

'n Polisieman het die slagoffers na die Ritavi Polisiestasie geneem om die saak aan te meld. Tot op datum is daar nog geen verdagtes aangekeer nie. Die vermoede bestaan dat dit weer dieselfde groep kapers was.

Mnr. Frans Eksteen, Algemene Bestuurder van Zoutpansberg Meule sê dat nog 'n verteenwoordiger, mnr. Silence Tlou, op 26 November by Langlaagte beroof is.

"Ons beweeg weg van die stelsel dat verkoopsverteenwoordigers geld by hulle dra. Ons elektroniese bankstelsel is alreeds in werking en behoort binnekort ten volle geïmplementeer te wees," sê mnr. Eksteen.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines