

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 December 2002
LOUIS TRICHARDT – Na verskeie klagtes van swak dienslewering en blatante diskriminering teenoor boere deur polisiestasies en polisiebeamptes, het 'n groep boere op Vrydag (13de) daarin geslaag om 'n vergadering te belê met senior offisiere van die SAPD.
Vele besware is geopper, waaronder die toename in misdaad op plase en ernstige konfliksituasies wat deur die polisie self veroorsaak word. Ernstige kommer is uitgespreek oor die feit dat talle polisiebeamptes in diens van die regering as wetstoepassers, deur hul optrede die regering dwarsboom en ondermyn. Klem is ook daarop gelê dat die polisie se ontoereikende en soms bedenklike getrag frustrasie veroorsaak ook by ander bevolkingsgroepe en dat dit een van die groot redes is waarop 'n wye spektrum van bevolkingsgroepe die polisie vyandig gesind is. In sekere gevalle gee die toedrag van sake aanleiding tot moorde op polisiebeamptes en weier gemeenskappe om inligting te verskaf in die oplossing van misdade.
Boere het dit ook onder polisie se aandag gebring dat baie van hulle 'n heenkome verskaf aan gesinne. Dit bring mee dat regeringsfondse nie uitgeput raak om werkloses te versorg nie. Die boodskap wat oorgedra is was dat boere die regering wil ondersteun en rasseverhoudings wil bevorder, maar dat hulle gehelp moet word om weer positief te raak en weer te vertrou in die polisiediens.
Tot ontsteltenis van baie boere het die polisiediens tydens die vergadering genoem dat landsburgers dikwels ook self daarvoor verantwoordelik is dat daar nie teen lakse beamptes opgetree kan word nie. Alhoewel baie boere dagboek hou van insidente, laat talle dit na om die sake te gaan aanmeld. In baie gevalle vanweë hul frustrasie met die polisie se skynbare onvermoë om te help. Gevolglik kan statistieke toon dat daar 'n afname in misdaad is, aangesien nie alle sake meer aangemeld word nie. Hieruit het dit duidelik geword dat sekere polisiebeamptes die gedragskode ontwikkel het om doelbewustelik konfrontasie uit te lok, sodat minder werk gedoen kan word. Daardeur word valslik 'n positiewe beeld ten opsigte van misdaadstatistiek bewerkstellig.
Ten einde die probleem te oorkom, is landsburger versoek om noukeurig rekord te neem van polisiebeamptes wat weier of te arrogant is om op te tree, insluitend tyd, dag, datum en selfs van die polisiebeampte. Dit het ook aan die lig gekom dat aanstryk naamplaatjies met beamptes se name vanaf vroeg 2003 aan alle polisiebeamptes beskikbaar sal wees. Indien daar steeds probleme met polisiebeamptes sou wees, is inwoners versoek om met die kantore van die Openbare Beskermer in Polokwane in verbinding te tree.

ADVERTISEMENT:
