

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 December 2002
LOUIS TRICHARDT – Die landbougemeenskap sal voortgesette onwettige intimidasie deur lede van die polisie voortaan as plaasaanvalle beskou en dit georganiseerd teenstaan.
"Geen lid van die SAPD sal voortaan in die nag toegang tot enige plaasopstal verleen word nie en geen verdere wanordelike toegang sal geduld word nie. Toegang tot plase sal streng geskied in ooreenstemming met die bestaande beskaafde norme vervat in die ooreenkoms dat enige staatsdepartement vooraf 'n afspraak sal maak voordat 'n plaas of 'n opstal betree word. Dit geld uitdruklik ook vir die polisie."
Hierdie ferm standpunt en onomwonde waarskuwing is vandeesweek deur die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (DLU) uitgereik, na voortgesette massa polisie klopjagte, wat deur die DLU as "blatante misbruik van staatsgesag op die Zimbabwe model teen onskuldige produktiewe landsburgers" verwerp word.
Luidens 'n amptelike verklaring van die TLU van Suid-Afrika, is talle plaasbewoners in die omstrede Operasie Hopper sonder lasbriewe deursoek op 'n wyse wat nie bevorderlik is vir die SAPD se professionele beeld nie en die vertroue in die SAPD as beskermer van die orde ernstig skaad.
Volgens die verklaring is vroue en kinders in hul slaapklere getraumatiseer deur 'n horde van minstens ses polisievoertuie en dertig polisiebeamptes wat op die plase aangekom en die wonings deursoek het. By een geval is die man en vrou vir 'n onbenulligheid in hegtenis geneem en twee kindertjies van elf en dertien alleen op die plaas agtergelaat.
Die verklaring lui dat die tendens om die deursoekings op Vrydae te laat plaasvind erg verdag is in die lig van die polisie se bekende obsessie om verdagtes toe te sluit al is daar nie genoeg gronde nie en al het die verdagtes vaste werk en adresse. Dit is onaanvaarbaar om onskuldige mense soos kriminele te hanteer en bloot te stel aan moontlike sodomisering en verkragting net om Maandag op borg vrygelaat te word en dan later te sê daar is nie genoeg gronde vir vervolging nie.
"Slagoffers van polisie strooptogte kry nie geleentheid om hul regsverteenwoordigers te laat kom om die deursoekings mee te maak nie. Dit maak die deur wawyd oop vir vergrype deur polisielede. Dit is bekend dat talle polisiebeamptes hulleself skuldig maak aan diefstal, roof, bedrog en ander misdrywe. Om dus toe te laat dat so 'n klomp polisiebeamptes (tot vyftien binne die huis, asook lede buite op die werf) aan die deursoeking deelneem is die teelaarde vir wantroue. Die SAPD topbestuur kan nie toelaat dat situasies geskep word waar hul beamptes buite die reg optree nie.
"Die SAPD se hantering van die sogenaamde regse bedreiging skep groot kommer. Die TLU van SA is reeds meer as 100 jaar 'n bondgenoot van die Suid-Afrikaanse Polisiemag en is steeds toegewyd om misdaad uit te roei. Dit blyk egter nou of die SAPD se topstruktuur as instrument gebruik word om politieke mag te projekteer," lui die verklaring.
Die TLU het reeds die aangeleentheid skriftelik onder die aandag van die Minister van Veiligheid en Sekuriteit gebring en ook 'n dringende gesprek met die Nasionale Kommissaris van die SAPD aangevra.
Intussen het 'n afvaardiging van die TLU bestaande uit mnre. Willie Lewies, Herman Vercuiel, Tertius Theron, Dries Joubert en Gideon Meiring met die LUR vir Veiligheid en Sekuriteit, Me Magadzi vroeg vandeesweek in Polokwane (Pietersburg) ontmoet.
Die TLU-afvaardiging sê die gesprek het gegaan oor die moedswillige en kwaadwillige klopjagte of strooptogte op veral lede van die TLU. Mnr. Lewies het dit in die gesprek duidelik gestel dat die optrede as kwaadwillig op die Zimbabwe manier van doen ervaar word. Hy het genoem dat 134 mense, waaronder mnr. Werner Weber van Aksie Stop Plaasaanvalle, reeds deurgeloop het. Net elf mense is in hegtenis geneem – meestal op beuselagtige klagtes en in ses van die gevalle was die arrestasies onwettig. Mnr Lewies het dit onomwonde gestel dat hierdie optrede die laaste strooi kan wees van enige welwillendheid teenoor 'n oneffektiewe SAPD wat hom boonop laat misbruik deur kortsigtige politici.
Mnr. Vercuiel het beklemtoon dat die TLU SA nie wil inmeng by regspleging nie, maar dat die huidige polisie-optrede neerkom op 'n ernstige misbruik van gesag. Veral kommerwekkend is hoe daar in die nagtelike ure gewelddadige toegang tot boere se opstalle verkry word deur SAPD groepe so groot soos 30 man sterk. Die optrede kom in weerwil van deurlopende pogings van die kant van die TLU en sy lede, sonder sukses, om gesprek te voer met die betrokke Minister en Kommissaris Pruis.
Mnr. Meiring het, tot groot ontsteltenis van mnr. Danie Botha van die ANC se portefeulje komitee vir Veiligheid, gemeld dat die optrede in Soutpansberg voortaan soos volg hanteer sal word:
* Geen SAPD-lid sal in die nag toegang tot 'n opstal verleen word nie.
* Boere sal onmiddellik mobiliseer en gewapend in terme van die steunkringkonsep reageer en 'n slagoffer te hulp snel.
* Geen onordelike toegang sal verleen word nie - wel onder beheer en verkieslik in die teenwoordigheid van 'n prokureur.
* Indien enige artikels of voorwerpe verwyder word, sal dit behoorlik gedokumenteer en teen handtekening geskied.
Mnr. Meiring het gesê dit is nie net billik nie, maar absoluut noodsaaklik gesien teen die toenemende hoeveelheid plaasaanvalle waar daar gevalle op rekord is waar aanvallers hulle as polisiebeamptes voorgedoen het.
"Wat ons aanbetref is die verrassingselement van die aanvanklike klopjagte reeds daarmee heen en beskou ons enige verdere optrede op hierdie wyse as blatante misbruik van staatsgesag op die Zimbabwe model teen onskuldige produktiewe landsburgers," sê mnr. Meiring.
Hy het 'n beroep op alle individue gedoen om seker te maak dat hulle huise in orde is met geen vreemde wapens of ammunisie nie. Mense wat enige hulp verlang kan die Soutpansberg Distrikslandbou-unie se kantoor by (015) 516 3963 of by 082 920 6684 skakel.
Die polisie se Nasionale Direkteur van Media Skakeling, Direkteur Sally de Beer, is vandeesweek genader vir amptelike kommentaar. Sy het Woensdag gesê dat sy egter tans besig is met 'n belangrike operasie wat haar van plek tot plek neem en dat sy kommentaar sal lewer sodra sy weer op kantoor is.

ADVERTISEMENT:
