

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 December 2002
ALLDAYS – Nog 'n lid van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM), AO2 Jan Jerling (36), is die afgelope week dood in 'n ongeluk by die vliegveld op Alldays. Hy is die derde lid van die SALM wat sedert Oktober in ongelukke in die streek dood is.
AO2 Jerling, van LMB Waterkloof in Pretoria, was ten tye van sy dood op 5 Desember besig met 'n nagvliegoefening. Hy was lid van die bemanning aan boort van 'n C-208 Caravan-vliegtuig van 41 Eskader. Hy is noodlottig deur die vliegtuig beseer, terwyl hy besig was om die draagbare landingsligte te herwin na voltooiing van die oefening. Intussen het die lugmag te kenne gegee dat hulle 'n raad van ondersoek ingestel het om die voorval te ondersoek. AO2 Jerling word oorleef deur sy vrou en seun.
Verlede week se noodlottige ongeluk volg sowat drie weke na die ongeluk by die Roodewal Bombaan buite Polokwane waartydens die 49-jarige AO1 Piet Breytenbach van LMB Louis Trichardt dood is. AO1 Breytenbach was besig met 'n opruimingsoperasie, toe 'n ploftoestel in sy hande ontplof het. Presies 'n maand vantevore is nog 'n lid van LMB Louis Trichardt, die 23-jarige kpl. Marlize Jessen, dood in 'n gru-motorongeluk op die N1 na Polokwane.

ADVERTISEMENT:
