ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Jong man in trane ná sewe jaar vonnis

 

News  Date: 30 January 2012

 

Die trane het gevloei tydens vonnisoplegging van 'n jong man van Louis Trichardt in die plaaslike landdroshof.

Die 28-jarige Rudi Barker van Louis Trichardt is Maandag sewe jaar direkte gevangenisstraf opgelê. Dit was tydens sy vonnisoplegging dat nie net hy nie, maar ook sy ma en pa gehuil het.

Barker het tereg gestaan op een klag van intimidasie, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en die roekelose bedreiging van ‘n persoon. Dié aanklagte teen hom het verband gehou met ‘n voorval op 20 Desember verlede jaar.

Barker, wat gedurende die einde van verlede jaar vervreem geraak het van sy vrou, het op dié dag sy driejarige dogtertjie by hom gehad. Hy is aanvanklik aangekla nadat die ma die polisie gekontak het om haar te help om haar dogtertjie terug te kry. Die ma het die polisie se hulp ingeroep nadat Barker haar gekontak het en gedreig het om die dogtertjie te skiet en daarna homself. Hy het glo die vuurwapen by ‘n familielid gesteel.

Volgens die Staat se getuienis is selfs ‘n polisiehelikopter opgekommandeer om na Barker en die meisie te help soek.

Barker is opgespoor en het sedert Desember agter tralies gesit. Hy het tydens sy hofverskyning Maandag skuldig gepleit op aldrie die klagte teen hom en ‘n pleitooreenkoms met die Staat aangegaan. Hy het tydens sy betoog ter vonnisversagting emosioneel gepleit dat sy straf na vyf jaar verminder word.

“My kind is my alles; ek sal enige iets doen om meer tyd saam met haar te spandeer,” het ‘n huilende Barker gesê.

Die landdros het egter by die oorspronklike ooreenkoms gehou en Barker aangemoedig om hulp te kry.

“Die doel met hierdie vonnis is om u nie te straf nie, maar om u te help rehabiliteer,” het landdros Pat Cloete gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines