

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 December 2002
LOUIS TRICHARDT – Vier mans, waaronder drie polisiebeamptes, het vandeesweek weer hier in die hof verskyn, nadat hulle in hegtenis geneem is in 'n opspraakwekkende interprovinsiale en internasionale motordiefstalsaak.
Volgens 'n polisiewoordvoerder word die vier mans daarvan verdink dat hulle deel was van 'n georganiseerde motortdiefstal, om onder meer 'n Duitse weeldevoertuig vanaf Gauteng na Zimbabwe te bring.
Die voertuig, wat oorspronklik op 27 November in Midrand gewelddadig van sy eienaar gekaap is, was verlede week met vervalste nommerplate op Louis Trichardt betrokke in 'n tweede beweerde kapings waarin 'n polisiebeampte na bewering 'n leidende rol gespeel het.
Die voertuig wat vermoedelik reeds in Zimbabwe is, was aanleiding tot 'n ondersoek waarin drie polisiebeamptes, een plaaslik en twee van onderskeidelik Musina en Beitbrug, in hegtenis geneem is.
Die drie polisiebeamptes, insp. Mashudu Freddy Mukananise (36) van die Misdaadvoorkomingseenheid op Louis Trichardt, insp. Gezani Winston Baloyi (37) van die grenspos op Beitbrug en insp. Erlwing Elelwani Matika (41) van die Speurtak op Musina, het Woensdag in die landroshof op Louis Trichardt verskyn in 'n borgaansoek. Hulle is elk op R1 000 borgtog vrygelaat.
Saam met hulle het die bestuurder wat die gesteelde voertuig vanaf Gauteng na Louis Trichardt gebring het, die 25-jarige Alfred Schoeman van Parkview in Pretoria, in die hof verskyn. Hy is borgtog van R3 000 toegstaan. Schoeman, wat aanvanklik as 'n klaer in 'n saak van motorkaping na 'n voorval by Ayob Motors in Louis Trichardt onder die aandag van die polisie gekom het, is na ondervraging ook in hegtenis geneem, toe die polisie vasgestel het dat sy verduideliking van die oorsprong van die voertuig, onwaar was en dat die voertuig vervalste nommerplate het.
Volgens die polisie is Schoeman, met twee vroue passasiers, verlede week onderweg na Zimbabwe met die voertuig by Ayob Motors op Louis Trichardt deur inspekteur Mukananise gekonfronteer. Hy het die bestuurder meegedeel dat die voertuig ('n Mercedes Benz) vermoedelik gesteel is en na die polisiekantoor gebring moet word. Schoeman is toe glo beveel om saam met inspekteur Mukananise te ry, terwyl 'n vriend van Mukananise die vermoedelik gesteelde voertuig na die polisiestasie sou bestuur.
Die twee vroue passasiers van die voertuig het die polisie ontbied, toe hulle bemerk dat Mukananise se vriend nie na die polisiestasie toe onderweg is nie. Hulle is glo op die straat agtergelaat en Mukananise se vriend het met die voertuig weggejaag.
By die polisiestasie is Schoeman later in hegtenis geneem, toe die polisie vasgestel het dat die voertuig dieselfde registrasienommer vertoon as 'n soortgelyke voertuig wat in die vertoonlokaal van 'n onderneming in Johannesburg te koop aangebied word.

ADVERTISEMENT:
