

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 January 2012
Inwoners van Louis Trichardt staar tans ‘n nuwe vlaag van terreur in die gesig waar daar by hul wonings ingebreek word terwyl hulle rustig lê en slaap.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag gesê dat daar die verlede naweek by nie minder nie as vyf wonings in Louis Trichardt ingebreek is. Dit is duidelik dat die nuwe uitbreiding geteiken word, met vier van die inbrake wat daar plaasgevind het in onder meer Baobab-, Leeu-, Tambotie- en Akasiastraat, en een in Vorsterstraat in die ou dorp. In twee bevestigde gevalle was die inwoners tuis terwyl daar ingebreek is. Bewerings is gemaak dat van die bewoners met ‘n gas bedwelm is voordat daar by hulle ingebreek is.
“Dit is die aakligste gevoel om te weet iemand was in jou huis terwyl jy geslaap het,” het mev. Jenny van der Merwe van Akasiastraat Dinsdag gesê. Haar man Hennie vertel dat hulle omstreek Saterdag omstreeks 23:00 bed toe is. Gedurende die aand het hulle ‘n geluid gehoor, maar alhoewel hulle wakker geword het, kon hulle nie beweeg of met mekaar praat nie. Hy sê hulle is definitief bedwelm.
“Hulle moes definitief ‘n gas of iets in die kamer ingespuit het. Dit het ‘n merkbare reuk gehad en laat jou bors toetrek,” het Hennie vertel. Hul kamer venster was die aand oop.
Hennie sê die gas het hulle weer in ‘n diep slaap gedompel. Met eerste lig Sondagoggend het hul wakker geskrik en met skok gevind dat die diefwering voor een van hul kombuisvensters afgeknip en weggebuig is. Kort daarna het hulle gemerk dat Hennie se skootrekenaar en kamera, wat op die eetkamertafel gelê het, weg is. Hennie vermoed dat hulle ook sy motor wou steel, maar dat iets hulle skrik op die lyf gejaag het. Sy motorsleutels het by die agterdeur gelê en die slot op die buitehek was reeds afgeknip en oopgestoot.
“Dank die Vader hulle het nie na ons slaapkamer gekom nie,” het Hennie gesê. Hy sê dat hulle die oggend ná die inbraak baie naar was en glad nie iets kon eet of drink nie, weereens, volgens hom, bewys dat hulle met iets bedwelm is.
Nog ‘n familie wat dieselfde aand deurgeloop het, was die Du Preez's van Baobabstraat. Pa Dirk en sy twee seuns, Chrisjan (9) en DJ (12), het kort na middernag Sondagoggend na ‘n naweekuitstappie teruggekeer huis toe. Ma Lianie, wat by die huis gebly het, het reeds geslaap. Teen dagbreek Sondagoggend het Lianie opgestaan en gesien hul kombuisdeur staan oop.
“Lianie was redelik kwaad omdat ons die deur oopgelos het, maar ons het nie. Kort daarna het sy gegil,” vertel Dirk. Die gil het gekom nadat Lianie gesien het dat die diefwering voor een van hul kombuisvenster afgeknip en weggebuig is. Die booswigte het klaarblyklik die agterdeur van binne oopgesluit, nadat hulle deur die kombuisvenster geklim het.
“Haar [Lianie] se eerste woorde aan my was ‘Gaan kyk in die TV-kamer’,” sê Dirk. Kort daarna het hulle gemerk dat hul platskerm televisie, asook die afstandbeheerders van al die elektroniese ware weg is. Ook hy was dankbaar dat die inbrekers nie na hul slaapkamers gekom het nie.
“Dit was net genade,” sê Dirk, wat ‘n veiligheidshek binne die huis het tussen die slaapkamers en die res van die huis. Hy het hoë lof gehad vir die Soutpansberg Dorpswag en plaaslike polisie, wat binne minute na sy oproep by sy huis was.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
