ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Musina SAPD weer in die spervuur

 

News  Date: 06 February 2012

 

Die provinsiale bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is nie gelukkig oor polisievoertuie wat kronies in Musina aangeheg word om skadevergoedingseise te vereffen nie.

Dit volg ná die balju weereens verskeie van die Musina SAPD se diensvoertuie by die stasie gaan aanheg het, nadat nege eksekusielasbriewe in die Landdroshof op Musina toegestaan is. Die eisers se eise beloop altesaam net minder as R1 miljoen.

Dié veiling is reeds op 13 Januarie geadverteer om op 27 Januarie plaas te vind. Die polisie het glo versuim om skadevergoedingseise aan E. Tshotledi, T. H. Muleya, Khathutshelo Mulaudzi, Atlas Makgado, Herman Gerner, Tshiwela Violet Manenzhe en M D Manamela, uit te betaal. Volgens die eisers se regsverteenwoordiger, mnr. Hennie Erwee, spruit die eise meestal uit onregmatige arrestasies. Van sy kliënte het meer as een eis teen die Minister van Veiligheid en Sekuriteit ingedien.

Provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto is genader vir kommentaar op 16 Januarie om te bepaal of daar 'n ondersoek gaan wees oor die kommerwekkende getal onregmatige arrestasie eise wat teen die Musina SAPD toegestaan word. In Augustus verlede jaar is daar ook 13 polisie voertuie aangeheg, nadat vyf eksekusielasbriewe deur die hof goedgekeur is. Dit is ook onder Otto se aandag gebring dat individuele lede van die Musina SAPD suksesvol deur mnr. Erwee gedagvaar is. 

Kort vóór die veiling sou plaasvind op 25 Januarie het Otto bevestig dat die veiling nie sal plaasvind nie.

“Geen staatsvoertuie sal tydens ‘n veiling verkoop word nie en dieslewering by Musina sal nie belemmer word nie,” het sy per e-pos gesê. Sy het verder aangedui dat die polisie se adjunk-provinsiale kommissaris van regsdiense, maj-genl. Steven Mbhalati, verduidelik het dat siviele eise teen die polisie nie noodwendig beteken dat polisielede onwettig opgetree nie.

“As ‘n lid van die publiek voel dat sy/haar regte geskend is, is dit hul reg om ‘n eis in te stel vir die hof om te bepaal wie aanspreeklik is,” het Mbhalati gesê.

“Die rede waarom al die eise nie uitbetaal nie, is omdat SAPD-bestuur nie gelukkig is met die wyse waarop die wetlike prosesse gevolg is nie en tans besig is om stappe te neem om die lasbriewe tersyde te stel,” het Mbhalati gesê.

Erwee het Maandag bevestig dat die veiling nie Vrydag plaasgevind het nie, omdat die polisie ooreengekom het om binne twee weke te betaal.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines