ADVERTISEMENT:

 

Evan Swanson en Oliver Muleya staan in die beskuldige bank tydens hul hofverskyning in die Louis Trichardt Streekhof verlede Vrydag.

Hof hoor polisie het moontlik gehelp

 

News  Date: 06 February 2012

 

Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens mag dalk hulp verleen het aan bendes wat onder meer onwettige Zimbabwiese sigarette die land in gesmokkel het.

Dié bewerings is gemaak tydens die hofsaak van vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle oor ‘n tydperk van ‘n jaar nagenoeg R6 miljoen in onwettige sigarette oor die grens na Suid-Afrika gesmokkel het.

Evan Swanson (Gauteng), Nndawakhulu Alfred Nefolovhodwe (Zimbabwe) en Roy en Oliver Muleya (beide van Musina) is tydens ‘n polisielokval, genaamd Projek Cheetah, aangekeer. Hulle is saam met nog vier verdagtes vroeg in Januarie 2006 in hegtenis geneem. Die ander vier beskuldigdes, Linah Sibanda, Gladys Makhado, Selinah Choga en Mike RD Wright het egter kort ná hul arrestasie ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die Staat aangegaan.

Wright het erken dat hy onwettige sigarette oor die Zimbabwe-grens na Suid-Afrika vervoer het. Hy is gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf of ‘n R50 000 boete. Sy vonnis is gedeeltelik opgeskort. Sibanda, Makhado en Choga is elkeen met R30 000 beboet.

Swanson en sy medebeskuldigdes het egter besluit om eerder onskuldig te pleit en die Staat die stryd aan te sê.

Beide Swanson en Roy het ‘n gedugte regspan aangestel. Muleya en Nefolovhodwe word deur advokaat Anton Kilian verteenwoordig, terwyl senior raadslid advokaat en waarnemende regter Max Hodes deur Roy aangestel is om hom te verdedig. Hodes is veral bekend vir sy betrokkenheid by die moordverhoor van Brett Kebble en die korrupsieaak teen voormalige nasionale polisiehoof Jackie Selebe, asook selferkende dwelmbaas Glen Agliotti. Swanson word verteenwoordig deur me. Venessa van Wyk van Musina.

Tydens die verhoor, wat verlede Maandag tot Vrydag in die streekhof in Louis Trichardt aangehoor is, het die vier beskuldigdes se regspan ‘n aansoek gebring om die Staat te forseer om geprivilegeerde dokumente bloot te lê. Hodes het hom veral toegespits op polisiedagboeke wat gehou is en interne korrespondensie met die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) tydens die operasie. Dié aansoek volg na ‘n vorige poging waarin die mans se regspan die lokval se geldigheid getoets het. Hulle het beweer dat polisie-agente wat in die lokval gebruik is nie die DOV se instruksies met betrekking tot die lokval nagekom het nie. Beide aansoeke was onsuksesvol en die hof het beveel dat die verhoor teen Swanson en sy medebeskuldigdes moet voortgaan.

Derhalwe het die Staat se eerste getuie, een van die polisie-agente, in die getuiebank geklim. Dié agent het getuig van ‘n video-opname waar hy en ‘n tweede agent gehelp het om 159 kartondose onwettige sigarette in Roy se vragmotor te laai. Roy sou hulle later R28 000 aangebied het vir die vrag.

Na die vrag gelaai is, het die agent getuig, het Roy homself en die tweede agent bedank vir hul hulp. Roy het verder glo gespog oor ander polisiemanne van Musina wat hy betaal het om hom te help smokkel.

Na die agent se getuienis, het die hof verdaag sodat die Staat die betrokke video aan die hof kon wys en as ‘n bewysstuk indien. Kort daarna moes die saak egter uitgestel word weens tegniese probleme met die hof se videotoerusting. Die saak sal vanaf 7 tot 11Mei hervat word.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines