

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 February 2012
Die onregmatige arrestasie van ‘n boer van Pontdrif en twee van sy voormanne kos die Minister van Polisie nou reeds R580 000 in skadevergoedingseise, buiten die manne se regskoste, wat ook deur die Staat betaal moet word.
Regter Goody van die Noord-Gautengse Hooggeregshof het Dinsdag beslis dat die polisie R220 000 skadevergoeding aan mnr. Piet Boshoff (72) van die plaas Parma moet betaal. Dit nadat daar reeds vroeër beslis is dat sy arrestasie en dié van sy twee voormanne, mnre. Godfrey Moyo en Simon Ndlovu, onregmatig was.
Die saak spruit uit ‘n voorval in Maart 2009 op Boshoff se plaas. Op die 18de van daardie maand is ‘n 30-jarige plaaswerker gevang, terwyl hy mangos gesteel het op die plaas. Moyo en Ndlovu het die werker hieroor gekonfronteer en, nadat hy skuld erken het, het hy bedank. Die werker het sy besittings bymekaar gemaak, waarna Moyo en Ndlovu vir Boshoff gevra het om die mangodief met die bakkie hoofpad toe te neem. Die vier mans is toe daar weg.
Twee dae later het die ma van die 30-jarige mangodief by die polisiestasie op Alldays opgedaag en op blote hoorsê ‘n klag van ontvoering gelê. Dit nadat haar seun nie huistoe gekom het nie.
Die polisie het geen tyd verspil om vir Moyo en Ndlovu te arresteer en aan te hou in die selle op Alldays nie. Intussen het Boshoff sy prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, geskakel en die twee is saam na die polisiestasie. Daar aangekom, is beide mans ontslaan, nadat die polisie op skrif erken het dat Moyo en Ndlovu nie verbind kon word met die man se verdwyning nie.
Twee dae later, op 20 Maart, het lede van die polisie se Georganiseerde Misdaadeenheid in Polokwane op die plaas opgedaag en weer vir Moyo en Ndlovu, asook vir Boshoff, op dieselfde klagte gearresteer. Die drie is daarna in die polisieselle in Polokwane gegooi, waar hulle vir twee dae aangehou is.
Die saak is intussen oorgeplaas na die hof op Louis Trichardt en op 22 Maart van daardie jaar het al drie mans op 'n klag van ontvoering verskyn. Al drie het borg gekry en die saak is uitgestel. Klagte teen die drie is egter later heeltemal laat vaar, nadat die mangodief opgespoor is en ‘n verklaring afgelê het dat hy nooit ontvoer is nie. Hy het blykbaar net op ‘n ander plaas gaan werk, sonder om vir sy ma daarvan te sê.
Skadevergoedingseise van R180 000 elk is reeds in Oktober 2010 aan Moyo en Ndlovu toegestaan. Boshoff se saak in die Hooggereghof is behartig deur prokureur Hennie Erwee en Adv Jaap Cilliers.
Erwee het gesê die Minister van Polisie het 30 dae om die eis uit te betaal.
“As hulle nie betaal nie, hou ons veiling,” het Erwee ná die uitspraak opgemerk.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
