ADVERTISEMENT:

 

Charles Young (44) sterf in motorongeluk

 

News  Date: 13 December 2002

 

LOUIS TRICHARDT –

Charles het die betrokke dag 'n groot seeboot met sy bakkie vanaf Thohoyandou na Louis Trichardt gesleep. Hy sou die boot die volgende dag vir 'n funksie by die Albasinidam gebruik het. 'n Knik in die pad, die smal brug, 'n sleepwaband wat lug verloor het en die gewig van die boot was alle faktore wat bygedra het tot die ongeluk. Die kant van die sleepwa het aan die brug se reling geraak, waarna Charles se voertuig getol het en hy in die proses uitgeslinger is. Hy het op slag aan nek- en hoofbeserings gesterf. Die ongeluk het tussen 20:15 en 20:45 plaasgevind.

John Charles Young is op 18 Junie 1958 gebore. Nadat hy aan die Karel de Wet Hoërskool gematrikuleer het, het hy ingenieurswese aan die Vaaldriehoek Technikon studeer. Hy het ook die grootste gedeelte van sy B.Iuris afgehandel, terwyl hy saam met sy bruid, Driekie skoolgehou het by die Hoër Tegniese Skool op Potchefstroom. Die gesin het hulle vyftien jaar gelede op Louis Trichardt kom vestig, toe Charles 'n pos by die eksamenafdeling van die Universiteit van Venda aanvaar het. Hy was daar werksaam tot 1993, toe die gesin vir 18 maande op Knysna gaan werk het. Terug op Louis Trichardt, het Charles Silverton Verkoelers op Shayandima begin. Hy het dié besigheid in die herstel en verkoop van verkoelingsisteme tot met sy dood bedryf.

Charles was baie bekend as 'n buitelewe mens, wat graag in die natuur visgevang en gejag het. Sy vriende en familie weet hoe lekker hy kon kosmaak. As egte mens-mens, het sy humor altyd die geselskap op hulle tone gehou.

"Wat hy gedoen het, het hy met passie gedoen. Hy het werklik met oorgawe gelewe," vertel Driekie.

Driekie se ouer broer, ds. Gert Delport van die N.G. Kerk Bultfontein-gemeente, het Dinsdag (10de) 'n roudiens vir Charles waargeneem vanuit die N.G. Kerk Soutpansberg-gemeente. Hy is Donderdag (12de) in Polokwane veras. Hy word oorleef deur sy vrou, Driekie, 'n bekende in onderwyskringe, en hulle twee kinders, JC (15) en Helet-Marí (13).

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines