ADVERTISEMENT:

 

Wyle oom Piet Wessels (81).

Legendariese Oom Piet Wessels oorlede

 

News  Date: 20 February 2012

 

Oom Piet Wessels, een van die laaste oorblywende groot geeste in die Soutpansberg, is verlede Woensdag oorlede in die ouderdom van 81 in die Tzaneen Medi-Clinic.

Pieter Wouter de Wet Wessels is gebore op 3 April 1930. Hy het aan die Grey College in Bloemfontein gematrikuleer. Dit was in Bloemfontein waar hy vir Athri Henning, wat sy eggenote van 54 jaar sou word, ontmoet het terwyl sy in Oranje Meisieskool was. Hulle is getroud in 1957 en het kort daarna verhuis na die plaas Piesanghoek buite Louis Trichardt, wat aan sy skoonouers behoort het. Oom Piet het die boerdery oorgeneem na sy skoonpa se dood en begin om plantasies en avokadobome aan te plant. Hy was een van die eerste boere wat met avokados begin boer het en van die oudste bome in die omgewing staan op die plaas.

Oom Piet het nie net met avokados geboer nie, maar ook ‘n saagmeule opgesit om die dennebome in sy plantasies te verwerk na kissies vir tamaties. Daarby het hy ook ‘n uitvoerbesigheid gevestig, wat avokados uitgevoer het, onder andere na Nederland in die tyd toe sanksies weens die politiek uitvoere na die buiteland geknou het. Dit het hy vermag deur ‘n vennoot in Nederland te hê in sy besigheid. Daardeur kon hy ook later baie ander boere help om van hulle produkte, soos neute, uit te voer.

Deur sy leierskap en betrokkenheid by georganiseerde landbou was hy wyd bekend in die streek en ook in die land. Hy het nie net ‘n kwekery vir avokadobome begin nie, maar was ook een van die eerste lede van ‘n studiegroep wat dié vrugte en die kweek daarvan nagevors het. Hierdie dors na kennis het gemaak dat mens hom bykans nooit sonder ‘n boek in die hand gesien het nie. Hy het nie net baie gelees nie, maar ook graag gereis. Verder het hy dikwels geskryf, veral versies en liedjies vir sy kinders en kleinkinders.

As mens sy vriende en familie vra oor Oom Piet, dan word woorde soos liefdevol, streng, integriteit, lojaliteit en ‘n hele rits ander, positiewe kwaliteite dikwels genoem. Een ding wat egter uitstaan, is sy groot geloof in sy Skepper en die feit dat hy dit tasbaar uitgeleef het. Sy vriendskap met prof. Koos van Rooy was vir hom kosbaar en die wedersydse respek tussen die twee was duidelik sigbaar. Hy was ook baie betrokke by die kategese van die NG Kerk Soutpansberg-gemeente, waar hy vir meer as 25 jaar ononderbroke op die kerkraad gedien het.

Oom Piet is Saterdagoggend vroeg op Piesanghoek begrawe, langs sy seun Mattewis, wat ‘n aantal jare gelede oorlede is. Die plegtigheid is waargeneem deur prof. Koos van Rooy, waarna ‘n roudiens vir hom gehou is in die kerk deur dr. Phillip Venter. Sy gesin het hulle dank en waardering uitgespreek teenoor almal wat hulle ondersteun het in die afgelope tyd met Oom Piet se siekte en afsterwe.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines