

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 February 2012
'n Gru-ongeluk op die Levubu-pad het verlede Donderdag (16/02) twee jong kinders wees gelaat, nadat hul pa, ma en ouma in die ongeluk gesterf het.
Mnr. Rossouw van Schalkwyk (24), sy lewensmaat Chanel Bosse (21) en haar ma, mev. Hester Swart (39), is dood nadat hul voertuig tromp-op met 'n bakkie gebots het. Die jong paartjie se twee kinders, die nege-maande-oue Diandré en haar drie-jaar-oue boetie Dian, was saam in die voertuig maar het wonderbaarlik die ongeluk oorleef. Diandrè en Dian het glo op die agterste sitplek saam met ouma Hester gesit ten tye van die ongeluk.
Rossouw het bestuur, met Chanel wat langs hom gesit het. Hulle was naby die nuwe padverleggings toe hulle van voor met ‘n bakkie gebots het wat in die teenoorgestelde rigting op pad was. Rossouw se voertuig het getol en langs die pad tot stilstand gekom. Hy, Chanel en Hester is op slag dood. Diandré is tot voor in die voertuig geslinger.
Diandré en Dian is saam met die berstuurder van die bakkie deurgejaag na die provinsiale hospitaal in Polokwane. Dian het behandeling ontvang vir swelling op die brein, maar is teen Maandagaand ontslaan. Hy bly nou by sy ouma aan sy pa se kant in Polokwane. Kleinsus Diandrè sal egter nog weke in die hospitaal moet bly. Volgens familielede het sy haar beentjie gebreek en gaan sy nog lank in traksie moet bly. Haar neusie is ook gebreek en sy het ‘n fyn skedelfraktuur opgedoen. Dié is gelukkig nie lewensgevaarlik nie.
Me. Antoinette van Schalkwyk, Rossouw se suster, het Maandag gesê die kinders sal vir eers by hul ouma bly. “Alles is nog so deurmekaar, maar onder omstandighede gaan dit goed met die kinders," sê sy.
Rossouw, sê hulle, sal onthou word as ‘n gewillge helper wat net die goed in sy medemens raakgesien het. “Iemand met 'n klein hartjie wat altyd meegevoel gehad het met mense wat swaar kry. 'n Man wat sy vrou en kinders op die hande gedra het. 'n Pa wat net die beste vir sy kinders wou hê.” Hy het ten tye van sy afsterwe in Levubu by ‘n sekuriteitsmaatskappy gewerk.
Chanel, ‘n tuisteskepper, sal onthou word as ‘n geduldige vrou wat Rossouw bederf en vertroetel het. “’n Beter ma kon daar nie vir haar kinders gegee word nie,” sê die familie.
Ouma Hester, weer, was die een wat altyd gelag het, maak nie saak hoe swaar die lewe soms gedruk het nie; daar was altyd ‘n glimlag om haar lippe.
Rossouw, Chanel en haar ma word Vrydag om 11:00 vanuit die NG-Kerk in Polokwane begrawe. Chanel en Rossouw sal saam begrawe word. “Die een kon nie sonder die ander en die Hemelse Vader het dit goed gedink om altwee saam te neem,” het die familie Maandag gesê.
Intussen het lede van die gemeenskap begin om klere en ander benodighede vir die paartjie se twee kinders in te samel.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
