

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 March 2012
Agt van die nege vermeende wilddiewe wat aan die begin van Desember verlede jaar vasgetrek is, is losgelaat.
Die Zoutpansberger het verlede jaar berig oor Sipho Tovhakale (23), Livhuwani Blondie Zwiitwaho (29), Godfrey Manganye (29), Lindelani Nugudza (27), Azwihangwisi Radzilani (23), Pandelani Justice Mukwevho (27), Mpho Siebane (32), Hlupeka Enock Maluleke (30) en Winnes Mhongo (20), wat aangekeer is vir hul beweerde betrokkenheid by die onwettige jag van wild.
Al nege het Maandag in die Distrikshof op Louis Trichardt verskyn. Hulle is aangekla van die onwettige jag van bedreigde diere sonder die nodige permitte.
Die bende is Dinsdag, 6 Desember, aangekeer, nadat die polisie se honde-eenheid op ‘n wenk gereageer het. Verskeie kleinwild, waaronder ‘n arend en aardvark, is op hul bakkie gevind met oopgekloofde skedels.
Volgens inligting het die mans gebruik gemaak van sewe honde om die wild aan te keer en van kant te maak. Die wild is glo in die omgewing van Lugmagbasis Makhado gejag, moontlik om aan die plaaslike muthi-mark te smous.
Tydens Maandag se hofverskyning het Siebana skuldig gepleit op die klag teen hom. Na wat die koerant kon vasstel, was dié skuldpleit ooreenkomstig met ‘n reëling wat vooraf met die Staat getref is.
Volgens dié reëling het die Staat ingestem dat die klagte teen die ander mans laat vaar word, mits Siebana skuldig sou pleit. Siebana is na sy pleit tot ses maande gevangenisstraf of ‘n boete van R5 000 gevonnis.
Die R1 000 borg wat Siebana se mede-beskuldiges met ‘n vorige hofverskyning betaal het, is weer aan hulle terugbetaal.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
