ADVERTISEMENT:

 

Polisie loop deur onder kritiek van Levubu-inwoners

 

News  Date: 26 September 2003

 

LEVUBU – Ernstige leemtes in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die howe se werkswyse strem die diens se doeltreffendheid en versuur die regstelsel se verhouding met die algemene publiek. Klagtes oor die gebrek aan professionele reaksie, wat toelaat dat misdaad hand-uit ruk, gaan nou op die heel hoogste vlak, met die Suid-Afrikaanse Parlement, opgeneem word.

Dit was die bevindinge van 'n Kommissie van Ondersoek wat deur die gemeenskap van Levubu onderneem is. 'n Spesiale vergadering is verlede Vrydag in die gemeenskapsaal belê om dié aangeleentheid te bespreek. Die kommissie het bevind dat die plaaslike polisiediens se reaksie op aangemelde misdaad heeltemal ontoereikend is, en dat die gebrek aan terugvoering oor sulke aangemelde misdaad onaanvaarbaar is. Daar is ook bevind dat talle aangemelde sake nooit opgelos word nie en dat talle kriminele wat uiteindelik by ernstige misdaad betrokke is, oënskynlik heel maklik daarmee wegkom. Daar was ook vrae oor die vonnisse wat die howe oplê vir die misdadigers.

Die kommissie het aanbeveel dat die polisie versoek moet word om hulleself in rat te kry vir veel vinniger professionele reaksie as wat tans die geval is, en dat daar beter beplanning van ondersoeke en reaksie moet wees. Die beskikbare getuienis voed 'n vermoede dat 'n beduidende gedeelte van die vlaag ernstige misdaad wat Levubu die afgelope maande teister, in die kiem gesmoor kon gewees het, as die polisie konsekwent professioneel gereageer het op klagtes en verstandiger te werk gegaan het rondom misdadigers wat reeds aan hulle bekend is.

Intussen het die Levubu gemeenskap tydens Vrydag se spesiale vergadering besluit om hulleself te beveilig, deur in te skakel by 'n private elektronies-beheerde reaksiemag. Die reaksiemag sal binne die volgende paar weke in werking gestel word. Hoewe-eienaars en sakeondernemings op die nedersetting stel belang om daarby in te skakel.

Die ondersoek en die jongste massavegadering het gevolg nadat onbevredigende reaksie ontvang is op 'n reeks formele versoeke, klagtes, vergaderings, 'n beplande protesoptog, die herstigting van die Levubu GPF en hoë vlak samesprekings.

Spanning, frustrasie en woede het tot by brandpunt opgelaai, toe twee gewapende aanvalle op boere in die Levubu omgewing gevolg het kort na vrugtelose samesprekings met senior offisiere in die polisie se plaaslike, area en provinsiale gesagstrukture. Op 28 Mei was daar samesprekings met Superintendent Mashaba. Op 29 Junie is mnr. Fritz Wagner ernstig verwond in die derde skietvoorval binne vier dae, waartydens ook 16 inbrake plaasgevind het. Op 4 Julie is 'n massavergadering belê waarby kommissaris Maepa sonder verskoning wegbly. Op 10 Julie volg samesprekings op provinsiale vlak met direkteur Morkel, Superintendent Snyder en Superintendent Ngobeni. Op 21 Julie word die GPF herstig in die teenwoordigheid van senior polisieverteenwoordigers uit Polokwane. Op 12 September rig 'n lid van die GPF, mnr. Johan de Wilde, 'n dringende versoek vir terugvoer oor formele versoeke wat via die GPF aan die opperbevel gerig is. Twee dae later, op 14 September, is daar 'n gewapende aanval op mnr. De Wilde en sy gesin. Mnr. De Wilde ontkom ter nouernood aan die dood, toe die gewapende aanvallers se wapen wonderbaarlik geweier het om 'n tweede gepoogde doodskoot op kort afstand af te vuur.

Mnr. De Wilde het tydens verlede Vrydag se spesiale vergadering gesê die gemeenskap sal onverwyld alles in hul vermoë moet doen om hulleself te beveilig. Dit sluit in die onmiddellike stigting van 'n reaksiemag waarby alle inwoners sal kan inskakel. Samesprekings is reeds gevoer met sekuriteitsdeskundiges en kwotasies is reeds ontvang vir die elektroniese toerusting wat deel van die veiligheidstelsel sal uitmaak.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines