ADVERTISEMENT:

 

Die nuwe reservoir wat by Mowcop in aanbou is, is op dieselfde perseel as die bestaande reservoir geleë. In die agtergrond kan die bestaande reservoir gesien word, met die nuwe reservoir voor. Bouwerk aan die nuwe reservoir is in Desember hervat nadat die halfvoltooide reservoir tot op die fondasie afgebreek is, as gevolg van swak werk.

Dorp se waterchaos duur voort

 

News  Date: 05 March 2012

 

“Wat gaan aan met die water?” was die vraag op inwoners van Louis Trichardt se droë lippe, nadat hulle verlede week weereens vir dae sonder water moes klaarkom.

“Belastingbetalers het my kort-kort gevra wanneer die water gaan aankom,” sê me. Aretha Smit, bestuurder van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV). Die watervoorsiening in groot gedeeltes van die dorp is onderbreek vanaf Woensdag, 22 Februarie. Teen Vrydagoggend het sommige gedeeltes se water aangekom en ander teen Saterdag.

Plaaslike oorsake van die chroniese watertekort word meesal gesien as infrastruktuur wat nie in stand gehou word of voldoende beskerm word nie.

Die woordvoerder van die Makhado Munisipaliteit, mnr. Louis Bobodi, het die Zoutpansberger laat verstaan dat laasgenoemde die oorsaak van die droë krane is.

Volgens die inligting wat deur die SBBV verkry is, was dit noodsaaklik om ‘n nuwe pomp van ongeveer ‘n half miljoen rand op die Albasini waterlyn te vervang.

“Daar sou net ‘n kort wateronderbreking wees, maar toe die pomp aangeskakel word, brand ‘n elektriese gedeelte uit. Dit is die uitsortering van die kragprobleem wat so lank geneem het,” sê Smit.

Bobodi het  gesê dat hy nie vrae oor water gaan beantwoord nie. Volgens hom moet vrae oor water voortaan aan die Vhembe Distrik Munisipaliteit (VDM) gerig word.

Intussen is die bouwerk aan ‘n tweede reservoir by Mowcop in die nuwe uitbreiding (oos van die N1) vir 'n tweede keer aangepak. Die vorige poging moes tot op fondasievlak weer afgebreek word.

“Iets het verkeerd geloop met die eerste poging ... Ons het ‘n kontrakteur aangestel wat die werk nie korrek volgens spesifikasies gedoen het nie. Ons was nie tevrede nie. Ons kan nie aan die gemeenskap ‘n reservoir gee wat lek nie. Daarom het die behoefte ontstaan dat die reservoir oorgebou moes word,” het VDM woordvoerder mnr. Matodzi Ralushai Maandag gesê. ‘n Hele lys vrae is aan die distrikswoordvoerder gerig. Ralushai het onderneem om die antwoorde per e-pos te stuur, maar dit is teen druktyd nog nie ontvang nie. Dieselfde tipe navrae  is presies drie jaar gelede gerig  toe die eerste kontrakteur afgedank is.

Die afgelope drie jaar ondervind die inwoners van veral die nuwe uitbreiding ‘n nypende tekort aan water en ly hulle onder die slakkepas waarmee die probleme met die reservoir hanteer word. Die belangrikste vraag wat nou gevra word, is of die bou, afbreek en herbou van die nuwe reservoir nie neerkom op vrugtelose vermorsing nie? Dit laat ook vrae onstaan oor hoe die tender in die eerste plek toegeken kon word aan 'n kontrakteur wat duidelik nie geweet het wat hy doen nie.

Iets wat mnr. Herman Smith van die SBBV hinder, is die feit dat die reservoir op die ou basis gebou word. Wie sê die basis was nie ook foutief nie? Die toesighouer op die terrein meen dat daar nie probleme met die basis is nie. “Die basis is goed, ons het dit laat bly,” sê  die toesighouer van Shatshane, die kontrakteur van Johannesburg aan wie die tender uiteindelik  toegeken is.

Die bestuurder van Shatshane Systems Solutions het Dinsdag gesê dat die koste van die herbouing van die reservoir R9.5m bedra. Die voltooidatum is 4 Mei en hy is vol vertroue dat die projek voltooi sal wees.

DA raadslid Brian du Plooy sê dat daar ‘n oorhoofse analise van die waterkrisis moet wees, sodat daar vorentoe beweeg kan word met watervoorsiening. “Hoe kan dit so lank vat om ‘n kontrakteur aan te stel? Die raad en amptenare moet leer om vinnig op te tree en dadelik te implementeer,” sê Du Plooy.

Wat die beskerming van infrastruktuur betref, sê Du Plooy dat daar drie tot vier jaar gelede monitors by die toerusting geïnstalleer is wat dadelik waarsku as daar aan die toerusting gepeuter word.

“Wat het daarvan geword? Dit is teen ‘n groot koste aangebring. As dit verdwyn het of nie meer benut word nie, dan kom dit neer op finansiële vermorsing. Die munisipaliteit moet oor hulle toerusting en stelsels toesig hou en dit beskerm,” sê Du Plooy. Hy sê ook dat die heen en weer afskuiwery van verantwoordelikheid tussen die plaasike en distriksmunisiplaiteit ‘n onding is.

Nog ‘n belangrike vraag aan die distriksmunisipaliteit wat beantwoord moet word, is die voltooidatum van die pypleiding vanaf die Nandonidam na die Levubu-, Louis Trichardt-, Kutama- en Sinthumule-gebiede. Dié pypleidings moet ook oorgedoen word, danksy swak werk deur kontrakteurs.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines