

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 May 2004
MUSINA – Vervalste R100-note uit Zimbabwe het aanleiding gegee tot 'n skietvoorval by die Baobab-tolhek.
'n Sewe-en-veertigjarige Zimbabwiër is verlede week in hegtenis geneem op 'n aanklag van bedrog, nadat hy 'n vulstasie op Musina met twee vervalste R100-note betaal het. Die 20-jarige veiligheidsbeampte van Musina, wat gesorg het dat die man aangekeer word, is intussen in hegtenis geneem op aanklag van poging tot moord, nadat twee mense gewond is toe hy op die Zimbabwiër se voertuig gevuur het om hom tot stilstand te bring.
Die hulp van die veiligheidsbeampte is deur die pompjoggie by die vulstasie ingeroep, nadat hy vasgestel het dat die bestuurder van 'n Mazda 626 uit Zimbabwe hom met vervalste geld betaal het. Die veiligheidsbeampte het die voertuig op die N1 in 'n suidwaartse rigting agternagesit en dit by die tolhek ingehaal.
'n Hewige argument het ontstaan, nadat die Zimbabwiese motoris oor die vervalste geld gekonfronteer is. Hy het toe probeer wegjaag. Die veiligheidswag het verskeie skote op die Zimbabwiese voertuig gevuur. Die voertuig is tot stilstand gedwing, maar van die skote het twee insittendes – passasiers vanaf Zimbabwe - getref. Hulle is in die hospitaal op Musina opgeneem vir behandeling. Hul toestand word as stabiel beskryf.
Alhoewel die voorval reeds sowat drie weke gelede plaasgevind het, is die inligting eers verlede Donderdag deur die SAPD in Thohoyandou aan die plaaslike media bekend gemaak.

ADVERTISEMENT:
