

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2012
Die huidige finansiële krisis in Limpopo se onderwysdepartment noop Hoërskool Louis Trichardt om self planne te maak om kwaliteit onderrig aan leerders te gee.
Die beloofde handboeke vir die Graad 10-leerders wat vanjaar met die nuwe kurrikulum moet begin, is steeds nie beskikbaar nie. Dié kurrikulum, Kurrikulum 2025, is met groot fanfare bekendgestel deur onderwysminister Angie Motshekga en is allerweë verwelkom. Dit is blykbaar beter gestruktureer en 'n meer vereenvoudigde dokument as die vorige Nasionale Kurrikulumverklaring. Daar is ook weggedoen met die oorbeklemtoning van die UGO (uitkomsgebaseerde onderrig). Onderwyskenners sê dat die nuwe kurrikulum ‘n verbetering is, omdat groter klem op vakinhoud geplaas word deur die voorsiening van werkboeke en handboeke.
Dit is presies waar die implementering toe nie plaasgevind het nie.
“Ons het miskien een handboek per vak, maar die handboeke is nou uit druk uit. Die handboeke word deur die provinsie vanaf nasionale vlak bestel,” het mnr. Henry Denner, skoolhoof van Hoërskool Louis Trichardt, gesê. Hierdie week was die handboeke steeds nie beskikbaar nie, hoewel die verwagting geskep is dat dit binnekort sal arriveer. Die koste van ‘n Graad 10 wiskunde handboek is R301, ‘n Afrikaanse handboek R238 en ‘n inligtingstegnologie werkboek R250 (www.timeslive.co.za).
Intussen maak onderwysers by die hoërskool hul eie planne, veral ten opsigte van die nuwe kurrikulum.
Me. Sarita Botha, onderwyser vir lewenswetenskappe, word veral geraak deur die gebrek aan handboeke. Ou handboeke word gebruik en aantekeninge word afgerol.
“Die kinders het ‘n spesiale aantekeninge skrif om ekstra aantekeninge te maak van vakinhoud wat in die sillabus is maar nie in die ou handboeke verskyn nie. Ek het ‘PowerPoint’ aanbiedings voorberei. Ons is so dankbaar dat die skool dit vir ons moontlik maak om dit te kan doen. Die kinders geniet natuurlik die meer visuele aanbiedings geweldig,” sê Botha.
Botha is veral bekommerd oor agtergeblewe skole.
“Ons maak ‘n plan, maar ek vra net altyd, wat van die arme kinders in die buitegebiede? Hoe agter raak hulle nie…”
Die tekort aan handboeke vir die nuwe kurrikulum is een van die uitvloeisels van die finansiële krisis waarin die Limpopo onderwysdepartement en ander departemente hulle bevind. Vyf departemente van Limpopo, waaronder onderwys, is in Desember verlede jaar onder gedeeltelike administrasie geplaas.
“Die betaling van baie nasieners en merksentrums is nog uitstaande. Daar is selfs nasieners wat sê hulle gaan nie die hereksamens nasien alvorens hulle nie betaal is vir die nasien van verlede jaar se matriekvraestelle nie,” sê Denner. Hy sê voorts dat salarisse van tydelike personeel by party skole nie betaal word nie.
"Hier by ons sukkel ons om ons aanstellings deur te kry. Die sogenaamde ‘free schools’ het nog nie ‘n sent van die departement gekry nie. Daar is hoofde wat persoonlike lenings aangegaan het, sodat hulle skole kan voortgaan,” sê Denner. Op dieselfde trant het die skool se adjunkhoof, me. Elsa Kriek, gesê sy weet nie of die provinsie die Limopo-atlete wat na die Suid-Afrikaanse kampioenskappe moet gaan, sal kan befonds nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
