

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2012
“Els is nie tronkmateriaal nie ..." Só het Jacques Els se advokaat, mnr. Tom Dreyer, verlede Vrydag namens sy kliënt betoog.
Die 39-jarige Jan Karel Pieter Els, alombekend as Jacques, het in die hof in Musina verskyn op nege klagte wat verband hou met die onwettige besit en verkoop van 34 renosterhorings sonder die nodige toestemming of permitte. Hy het skuldig gepleit op hierdie klagte ingevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat.
Els het aangevoer dat hy die renosterhorings aangekoop het met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die verhandeling van renosterhorings gelig word. Die renosterhorings was, volgens Els, afkomstig van renosters wat hy self aangekoop het, asook die renosterkudde van die Maremani Natuurreservaat buite Musina.
Els het by tye bewoë voorgekom tydens die hofverrigtinge. By wyse van ‘n verklaring wat deur sy advokaat aan die hof voorgelees is, het Els erken dat hy 14 voorhorings en 12 agterhorings van wyle mnr. Tom Fourie (51) gekoop het gedurende 2009 en 2010. Fourie was in daardie stadium werksaam as die bestuurder van die Maremani.
Volgens Els se verklaring het Fourie hom genader om ‘n aanbod te maak op horings. Hierdie renosterhorings was almal afkomstig van Maremani se wit- en swartrenosters. Fourie het vir Els onder die indruk gebring dat die horings verwyder word om die renosters te beskerm teen wilddiewe wat hulle sal doodmaak om die horings te stroop.
Vir hierdie 26 renosterhorings, plus nog vier wat later verwyder sou word, het Els en Fourie ooreengekom op ‘n bedrag van R760 000. Hierdie bedrag is oor drie paaiemente in kontant aan Fourie oorbetaal.
“Hy [Fourie] het my meegedeel dat hy die horings in opdrag van sy werkgewer moet verkoop,” het Els in sy pleit gesê. Els het die Maremani-horings saam met sy privaat versameling in Thabazimbi geberg.
“My doel was om hierdie horings, wanneer die handel na verwagting gewettig sou word, te bemark teen ‘n wins,” het Els verduidelik. Die plan was om aansoek te doen vir bergingspermitte asof die horings aan hom behoort het.
Kort na Fourie se arrestasie op 9 September 2010 is al Els se renosterhorings, volgens hom, gesteel tydens ‘n huisbraak by sy huis op 18 September. Hierna het Els homself in Oktober aan die polisie oorgegee en hy is saam met Fourie aangekla. ‘n Maand later het Fourie selfmoord gepleeg.
Hierna is Els saam met ‘n veearts, mnr. André Uys, wat gehelp het met die oes van die renosterhorings, aangekla. Uys het gehelp met die pyl en onthoring van die Maremani-renosters. Alle klagte is in Julie verlede jaar teen Uys teruggetrek, nadat dit aan die lig gekom het dat Uys wel oor die nodige onthoring-permitte beskik het.
Els het Vrydag die hof gevra vir ‘n boetevonnis van R300 000 en ‘n opgeskorte vonnis weens die unieke aard van sy saak.
“Die aard van die statutêre oortredings waaraan ek skuldig bevind is, moet onderskei word van die onwettige jag van renosters en die verkoop van daardie renosters se horings,” het hy gesê. “Laasgenoemde optrede bedreig die voortbestaan van renosters. Ek het my eie renosters se horings en dié van Fourie … wettig onthoring," het Els gesê.
Weens die nasionale aandag wat renostersake geniet, het die hof gesê, sal Els tot 13 Maart moet wag om uit te vind wat sy straf sal wees. Hy sal in Louis Trichardt verskyn vir vonnisoplegging.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
