ADVERTISEMENT:

 

Die 65-jarige mev. Tribhovan van Eltivillas, wat wreed aangerand is tydens ´n gewapende roof, word na ´n wagtende ambulans gevat.

Inbrake raak al meer gewelddadig

 

News  Date: 12 March 2012

 

Ernstige kommer heers tans oor die toename in die getal huisbrake in Louis Trichardt sedert die begin van die jaar.

Meer onrusbarend is die feit dat al hoe meer huisbrake plaasvind terwyl die inwoners tuis is. Die inbrake raak ook al hoe meer gewelddadig.

Verlede Woensdag is ‘n bejaarde inwoner van Eerstestraat in Eltivillas, die 65-jarige mev. Perba Tribhovan, in haar huis deur drie mans oorval en wreed aangerand.  Volgens haar bure is dit die vierde keer dat sy die slagoffer geword het van ‘n gewapende roof. Die Zoutpansberger het verlede jaar berig hoe Tribhovan  met ‘n mes aangehou en beroof is van al haar juwele en ander waardevolle huishoudelike items.

Tribhovan is verlede Woensdag in haar kombuis oorrompel. Hulle het haar gegryp en dieper die huis ingedwing.  In die proses is sy rondgepluk en herhaaldelik met ‘n rewolwer in die gesig en oor die kop geslaan. Die aanvallers het eers op die vluggeslaan toe sekuriteitswagte voor in Tribhovan se tuin haar hulpkrete gehoor het. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het later by navraag bevestig dat ‘n onbekende bedrag geld gesteel is.

Tribhovan, ‘n diabeet wat aan hoë bloeddruk ly, is na die voorval in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem vir mediese behandeling.

Tog was hierdie nie die enigste gewelddadige gewapende huisbraak die afgelope week nie. Saterdagaand is ‘n groep vriende by ‘n huis in Malvastraat aangeval en beroof.

Mnr. Percy Scott en sy vriend, mnr. Jaco Strydom van Tzaneen, het buite onder die tuinlapa gestaan en braai. Jaco se verloofde, Landi, het televisie gekyk in die huis saam met die paartjie se 11-maande-oue babaseun.

Omstreeks 20:00, vertel Scott, het ‘n gemaskerde man met ‘n outomatiese aanvalsgeweer oor die tuinmuur gespring.

“Die ou het gespanne gelyk en het ons geld, selfone en horlosies geëis,” het Scott Maandag aan die  Zoutpans-berger gesê.

Kort daarna het nog twee mans met pistole oor die tuinmuur gespring en vir Scott en Strydom die huis ingedwing. Dié twee was ongemaskerd.

Die groep vriende is in ‘n kamer ingedwing, waar die rowers hulle hande en voete vasgebind het. Net Scott se hande is vasgebind. Hy is na ‘n ander kamer geneem waar die rowers sy kluis- en motorsleutels gevra het. Terwyl die rowers die huis geplunder het van elektroniese toestelle, kon Scott daarin slaag om sy hande te bevry. Hy het op die vlug geslaan deur oor die tuinmuur te spring en om hulp te roep.

‘n Buurvrou het Scott se noodkrete gehoor en dadelik die Soutpansberg Dorpswag ontbied. Kort hierna het die rowers op die vlug geslaan. Behalwe vir die trauma, was Strydom, sy verloofde en babaseun ongedeerd. Na die tyd is die waarde van die gesteelde goedere geraam op sowat R50 000. “Hulle was ‘n genadelose spul gewees en ons is net dankbaar dat ons niks oorgekom het nie,” het Scott opgemerk.

Dieselfde aand is die polisie ook ontbied na Nando’s in Songozwistraat, nadat inbrekers ook dáár toegeslaan het. Volgens inligting het die inbrekers deur die dak geklim en die winkel geplunder.

In al drie gevalle is daar nog geen arrestasies gemaak nie. Die Makhado polisie het gevra dat enige iemand met inligting die ondersoekbeamptes skakel by tel. 082 319 9638 of 083 206 5594.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines