ADVERTISEMENT:

 

Daar is groot hartseer omdat Shiloh Place vir Verlate Babas toemaak weens finansiële druk. Van links is pastoor Anton van den Berg van die AGS Charisma gemeente, wat verantwoordelik was vir die bestuur van die huis, en me Annatjie Blom, huismoeder, en ´n werker wat elkeen ´n baba vashou.

Finansiële druk noop babahuis om te sluit

 

News  Date: 19 March 2012

 

Trane wel in die huismoeder van Shiloh Place babahuis in Louis Trichardt se oë, terwyl sy na die laaste vier babas kyk.

“Vandag (12de) kom haal hulle die tweeling en oor twee weke die ander twee. Die babahuis maak die einde van die maand toe,”sê me. Annatjie Blom. Vir die afgelope paar jaar het Shiloh Place as deurgangshuis gedien vir babas wat verlate gevind is, wees gelaat is of van aborsie gered is. Hulle is so gou moontlik uitgeplaas vir aanneming of pleegsorg.

“As dit van Annatjie afgehang het, sou die babahuis nooit toegemaak het nie, maar die finansiële druk was net te groot,” sê pastoor Anton van den Berg van die AGS Charisma gemeente. Hy verduidelik verder dat Shiloh Place nooit die gemeente se babahuis was nie.

“Dit val onder die uMefhi Stigting van die AGS Kerk se Uitvoerende Welsynsraad. Ons het die huis administreer en bestuur. Die finansiële druk op die oorkoepelende liggaam, die Welsynsraad, is groot omdat hulle nie geld van die welsynsdepartement kry nie. Ons gemeente kry nie ‘n sent van die Staat om ons te help met die babahuis nie,” sê Van den Berg.

Persone van uMefhi se hoofkantoor het Van den Berg kom sien.

“Dit was nie by uMefhi in die pyplyn om Shiloh Place toe te maak nie, maar ons het gevra dat die babahuis toegemaak word weens die finansiële druk op die gemeente. Ons het die gemeente getap en ons eie welsyngevalle afgeskeep. Die babahuis was net nie meer lewensvatbaar nie ... Volgehoue, deurlopende hulp was ‘n probleem,” sê Van den Berg. 

Die bedryfskoste van Shiloh, insluitende kos en doeke vir die babas, asook die salarisse vir die huismoeder en vier werkers, het ongeveer R15 000 per maand beloop. Die stigting het die geld vir die salarisse voorsien, maar kon dit ook nie altyd bybring nie. Die doeke en kos is geskat op ongeveer R5000 per maand.

Shiloh het in 2007 geopen en die eerste baba het sy opwagting op 8 Mei 2007 gemaak. Die gemeenskap het hart en hand oopgemaak. Reeds voor die aankoms van die eerste baba was die huis verfraai en ingerig met babakleertjies, bababedjies en ander benodigdhede. Die voormalige pastoor van die gemeente, dr. Johan van Rensburg, projekbestuurder Linda Dunhin, maatskaplike werker Trinette Claasens en huismoeder Teresa de Beer was in daardie stadium die  dryfvere.

Deur die jare het baie persone en instansies welkome hulp verleen.

“Ons noem graag instansies en persone wat die afgelope jaar uit hul pad gegaan het om ons te help,” sê Van den Berg en bedank dr. Anton Stroebel en vennote, wat altyd beskikbaar was om die babas gratis te ondersoek, Jana Smith van Harcourts wat ‘n rekening by Marius Bronn Apteek geborg het sodat die babas gratis medisyne kon kry, Willie en Cornelia du Preez van Limpopo Melkery wat elke oggend vars melk en joghurt gebring het, Coca Cola Fortune vir  hul finansiële bydrae, die Rotary Anns en die Rotariërs, Laeveld Stene, Apie en Martie Meintjies, John Struwig van Struwig Bouers, Johnny Barker van Jonathan Electricians, Laerskool Louis Trichardt, Kathsamat Vijay Naidoo vir die hulp met die doeke, Gerhard Hollander, die Makhado Lugmagbasis en die lidmate van die AGS Charisma gemeente.

Daar is nou vier betroubare werkers wat sonder werk gaan wees. Twee het gewoonlik dagskof gewerk en twee nagskof. Enige werkgewer wat belangstel, kan Annatjie kontak by 082 684 5700.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines