

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2012
Konstruksiewerk aan Louis Trichardt se nuwe rioolaanleg vorder fluks en is bykans 38% voltooi. Die werk het op 1 Julie verlede jaar begin, met ‘n kontraktydperk van 14 maande en teen ‘n koste van amper R46,3miljoen.
Die inlaatwerke is bykans 88% voltooi. Die tweede deel van die sisteem, die balanseertenk, is 83% voltooi en die balanseertenk se pompstasie 15%. Die biologiese reaktor, wat die hart van die aanleg vorm, is al 26% voltooi. Die finale of sekondêre besinktenks (suiweringtenks) is 24% klaar. Die slykpompstasie is pas begin en staan op 9%, terwyl die slyk droogbeddings en die chloor kontakkanale onderskeidelik op 19% en 10% staan. Die paaie is 10% klaar. Die palisade-omheining en geboue is die verste, onderskeidelik 95% en 90% voltooi. In November verlede jaar het die persentasie afgehandelde siviele werk op 12 % gestaan. Rubicon Civils is verantwoordelik vir die siviele en strukturele aspekte van die projek.
Die meganiese en elektriese werk aan die rioolaanleg moet nog volg. Dié tenders word tans ingewin en sluit die einde van hierdie week. “Daarna gaan die tenders na die munisipaliteit en ons hoop om teen die einde van Junie ‘n kontrakteur aan te stel. Dit is moontlik dat die siviele en meganiese werk teen November afgehandel kan wees,” sê mnr. Connie Vlok, terreiningenieur van Worley Parsons, die raadgewende ingenieursfirma.
Vlok sê egter dat dit 'n bietjie gou is om te sê wanneer die hele aanleg operasioneel gaan wees, omdat die elektriese werk eers afgehandel is wanneer voldoende kragvoorsiening na die aanleg ‘n onbetwisbare feit is. Die tydperk wat dit neem om voldoende kragvoorsiening te verseker, moet ook in aanmerking geneem word.
“Die voorsiening vir voldoende krag vir die projek is tans besig om aandag te kry om gefinaliseer te word,” het Vlok gesê.
Die meganiese en elektriese werk sal die rioolaanleg se koste tot ongeveer R70m opstoot, volgens die beraming wat mnr. Henk Geldenhuys, tegniese direkteur en professionele ingenieur van WorleyParsons, gemaak het.
Lede van die bestuur van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging het onlangs ‘n besoek aan die nuwe watersuiweringswerke, wat sowat 2.4 km in ‘n westelike rigting vanaf die bestaande aanleg geleë is, gebring.
“Dit is baie indrukwekkend en ons is baie ingenome met die tweede rioolaanleg. Ons hoop dat die dorp se rioolprobleme oor ‘n jaar of twee heeltemal opgelos sal wees en dat die prosesse wat moet volg op die voltooing van die aanleg , net sulke goeie werk sal oplewer. Ons besef dat die manier waarop die rioolaanleg bestuur en onderhou sal word die kern van die saak gaan wees,” het die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan gesê.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
