

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2012
Dieremishandeling is weereens besig om sy aaklige kop in Louis Trichardt uit te steek.
Twee bekommerde families het die Zoutpansberger genader, nadat beide se liefling troeteldiere bygekom is met ‘n windbuks.
Die Olivier-gesin van Munnikstraat moet nou ‘n werpsel van vier katjies grootmaak, nadat die ma met ‘n windbuks in die been geskiet is. Volgens pa Phillip het die windbukskoeëls soveel skade aan die been aangerig dat 'n veearts noodgedwonge ‘n pen moes insit. “Haar agterbeen was vergruis,” het Phillip gesê.
Twee dae en ‘n massiewe veeartsrekening later is die ma-kat egter dood.
“Hoe verduidelik ‘n ouer aan sy kind dat sy kat nie meer daar is nie?” het ‘n ontstelde Phillip gevra. Hy het ‘n beroep gedoen op diegene wat hulle tot sulke pratyke wend om eerder van alternatiewe metodes gebruik te maak as hulle van katte op hul erwe wil ontslae raak. “Ons lewe nie in ‘n barbaarse tyd nie,” sê Phillip.
Nog ‘n gesin het Phillip se gevoel rondom dié kwessie gedeel. Die gesin se nagmerrie ondervinding het egter ‘n gelukkiger einde gehad. Yolande Venter moes haar seun, Reuben, se gemmerkat, Sokkies, inderhaas veearts toe vat nadat hulle agtergekom het die kat is in die linkerlies geskiet.
“Mense moet nie diere seermaak nie; hoe sal hulle voel as die rolle omgeruil word?”
Sy het eers gedink dat Sokkies met ander katte baklei het, maar nadere ondersoek het aan die lig gebring dat die koeël nog vassit. Dié is later deur ‘n veearts verwyder. Sokkies was teen druktyd nog besig om aan te sterk.
Die plaaslike polisie kon by navraag bevestig dat dit wel onwettig is om ‘n windbuks in ‘n publieke of woonarea af te vuur. Lt-kol. Bez Bezuidenhout, kenner van die wapenwet, het die publiek gemaan om eerder nie hul windbukse in die dorp af te vuur nie. Ingevolge die wet kan iemand, as hulle gevang word, krimineel aangekla word. As daar nog boonop bewys kan word dat ‘n persoon ‘n troeteldier geskiet het, kan hy ook vervolg word onder die Dierebeskermingswet.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
