ADVERTISEMENT:

 

Bestuurder me. Marette Louw (links) staan saam met die eienaar van Ocean Basket, mnr. Johan Kirsten, en kyk na die gate wat rowers in die dak gesny het om toegang tot die winkel te verkry. Die kantoor is geplunder vir die naweek se geld.

Vlaag van inbrake steeds aan die toeneem

 

News  Date: 19 March 2012

 

Inbrake is steeds aan die toeneem in Louis Trichardt, wat menige inwoner laat wonder of dit die werk kan wees van ‘n georganiseerde bende. 

Nog ‘n gesin is verlede Vrydag by hul huis in Elandstraat deur ‘n bende gewapende rowers aangehou en beroof van derduisende rande. Die gesin wil nie geïdentifiseer word nie, uit vrees dat hulle die teiken sal word vir verdere misdaad.

Dieselfde aand is ‘n sekuriteitswag voor Shefeera Timbers in Groblerstraat ook aangehou en beroof. Volgens inligting verskaf deur die polisie is die wag deur sewe gewapende mans aangehou, vasgebind en beroof van sy geld en selfoon.

Saterdag het die inbrake by besighede begin. Die NTK/Landmark-winkel in Unikastraat het vir die tweede keer in twee maande die slagoffer geword van waaghalsige diewe.

In Januarie is personeel by die winkel begroet deur ‘n kluis wat oopgebreek is; hierdie keer is hulle splinternuwe kluis in stukke opgeblaas. Winkelbestuurder me. Sonje Thornhill het Maandag op die oopgeblaaste kluis afgekom. Daar word vermoed dat die inbraak Saterdagnag plaasgevind het.

Dieselfde aand is daar ook toegeslaan by PJ Timbers. Bestuurder mnr. Flippie Greyling vertel dat hulle aanvanklik nie onraad vermoed het nie en eers Sondag agtergekom het dat daar ingebreek is. Volgens hom het die rowers eers ‘n gat in die dak gesny van die kantoor om sodoende die alarmstelsel af te sit.

Hierna het hulle ‘n gat in die muur van die kantoor gemaak en deurgeklim tot waar die kluis staan. Hulle het toe waarskynlik 'n blaasvlam gebruik om die kluis oop te sny. Sondag, toe Flippie se pa, mnr. Flip Greyling, die kantoor oopsluit, het van die geld nog gebrand. Die rowers het met ongeveer R10 000 weggekom. “Ons is al moedeloos met die situasie. Dit is al die soveelste keer wat ons geteiken word, en ons moet net bly betaal vir nuwe sekuriteitsstelsels,” het Flippie Maandag vertel. 

Personeel van Ocean Basket het dieselfde nare ervaring gehad toe hulle Maandag wou oopmaak vir besigheid en besef dat hulle ook beroof is. Volgens die eienaar, mnr. Johan Kirsten, moes die rowers kort na sluitingstyd Sondagaand toegeslaan het. Hulle het middernag gaan ondersoek instel toe die alarm in die winkel geaktiveer is. Niks het by die winkel verdag gelyk nie en hulle het die alarm wat afgegaan het toegeskryf aan ‘n kat wat voor die sensor verbygeloop het.

Die volgende oggend het ‘n chaotiese kantoor die bestuurder, me Marette Louw, begroet. Die polisie is dadelik ontbied. Dit het later aan die lig gekom dat die rowers die alarm se draad geknip het nadat dit afgegaan het en toe die hele naweek se wins en ‘n paar biere gesteel. Hulle het toegang tot die winkel verkry deur drie gate in die winkel se dak te maak met ‘n blikskêr. Dit is dieselfde manier hoe daar voorverlede naweek by Nando’s in Songozwistraat ingebreek is.

Sover daar vasgestel kon word, is daar nog geen arrestasies gemaak nie. Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het wel ‘n beroep gedoen op enige iemand wat inligting mag hê om die ondersoekbeampte te skakel by tel. 082 319 9638 of 083 206 5594.

Lees ook:

4 June 2012 - Personeel met messe toegetakel tydens roof

24 January 2014 - Ocean Basket weer teiken van rowers

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines