

ADVERTISEMENT:

News Date: 19 March 2012
Daar is iets in die drinkwater, maar hopelik is dit nie wat die spreekwoord sê nie.
Die afgelope week was Louis Trichardt se drinkwater allesbehalwe glashelder, met kleurskakerings wat gewissel het van ligbruin tot pikswart. Talle lesers het foto’s ingestuur van die modderige gemors wat uit hul krane geborrel het.
“Is dit bier? Is dit Cola? Nee, dit is Makhado se kraanwater ... wel, vir diegene wat gelukkig is om water te kry wanneer hulle die kraan oopdraai!” was Bruce Murray se kommentaar.
Charl Nelson was ook nie baie gelukkig nie. “Dit is walglik om te sien waarvoor ons moet betaal en dan kan jy nie eers daarin bad nie,” skryf Nelson.
Elaine de Clercq het op haar beurt gevra of inwoners van Louis Trichardt regtig tevrede kan wees met die water. “Dis ons drinkwater en dit lyk so! Ek kan amper vis teel in my bad ... regtig, ons verdien dit nie,” sê De Clercq.
Gewapen met ‘n string foto’s wat duidelik die rede vir inwoners se frustrasie wys, is die Makhado Munisipaliteit vroeg Maandagoggend genader vir kommentaar. Die vrae was min en eenvoudig: Wat was die oorsaak dat die water verkleur het?; Wat is die sediment in die water?; Is dit veilig om die water te drink?; en Wat doen die owerhede om die probleem te probeer oplos?
Vir bykans ‘n dag lank het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi die Zoutpansberger aan ‘n lyntjie gehou met ‘n belofte om te antwoord, net om Dinsdagmiddag die koerant te laat weet hy kan nie antwoord nie. Blykbaar is water nie meer die Makhado Munisipaliteit se verantwoordelikheid nie, maar wel die Vhembe Distriksmunisipaliteit s’n.
“Hulle moet verduidelik,” het Bobodi gesê.
Dit was egter gou duidelik dat daar nie maklik antwoorde gekry sal word op die Zoutpansberger se medianavraag nie. Buiten dat Bobodi wel genoem het dat hy die navraag aangestuur het na die Vhembe Distriksmunisipaliteit toe, het die Zoutpansberger ook afskrifte per e-pos gestuur aan Vhembe se uitvoerende burgemeester, rdl. Florence Dzhombere, Vhembe se hoofbestuurder van Tegniese Dienste, mnr. Nnyadzeni Tshivhengwa, en Vhembe se munisipale bestuurder, mnr. Masala Makumule. Dit was om 13:35 Dinsdagmiddag.
Geen terugvoer of erkenning van ontvangs is ontvang nie. Opvolgoproepe is ook begroet met “Hy is in ‘n vergadering” of ‘n blikstem wat mens meedeel dat die persoon nie op sy selfoon beskikbaar is nie. Woensdagoggend het die Zoutpansberger die geveg voortgesit om ‘n antwoord te bekom. ‘n Opvolg e-pos is aan al drie bogenoemde persone gestuur met ‘n versoek om ontvangs te erken. Niks nie.
Na ‘n verdere string oproepe is daar na bykans ‘n uur eindelik uitgekom by mnr. M Ralushai van Vhembe se kommunikasie-afdeling. Hy was onbewus van enige navrae, maar het versoek dat die medianavraag ook na hom gestuur moet word.
Teen druktyd was daar steeds geen terugvoer van sy kant af nie. Dit sou later Woensdagoggend aan die lig kom dat daar Dinsdagaand ‘n kabinetskommeling in die provinsiale wetgewer was, met die nuus dat Dzhombere intussen aangestel is as LUR van Veiligheid en Sekuriteit in die provinsie.
Of die politieke skommelinge binne die provinsie die rede is waarom daar nie nou regtig erns gemaak word met die koerant se navraag oor die kwaliteit van inwoners se drinkwater nie, is onduidelik. Intussen gee die Zoutpansberger lesers en inwoners die geleentheid om self ‘n verskoning te kies oor wat die rede was vir modderige water. Lesers sal merk dat van die verskonings gereeld deur die owerhede gebruik word om te verduidelik waarom daar geen dienslewering is nie. Sien onderstaande.
Gaan op Facebook en kies jou verskoning in ons "poll":
* Die reservoirs het leeggeloop en die sediment het in die sisteem beland, want:
- inwoners gebruik te veel water om hul tuine nat te maak;
- ‘n pyp het gebars;
- Diewe het kabels gesteel by ‘n pompstasie; of
- ‘n menslike fout by die suiweringsaanleg.
* Onbevoegdheid
* ‘n Infrastruktuur wat in duie stort weens ‘n gebrek aan instandhouding.
* Te min geld om chemikalieë aan te koop vir die suiweringswerke.
* Die verkeerde toediening van chemikalieë by die suiweringswerke.
* Het ons al onbevoegdheid genoem? Miskien ...
* Die vorige regering het doelbewus die infrastruktuur swak gebou, sodat die nuwe regering nou met die gebakte pere sit en almal onregverdiglik kan kla oor hoe swak die huidige regering is.
* Al bogenoemde verskonings.
(Besoek ons op Facebook, Twitter of die Zoutpansberger se webblad by www.zoutpansberger.co.za en laat weet ons wat lesers dink)
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
