

ADVERTISEMENT:

News Date: 23 March 2012
Presies ‘n week ná die Zoutpansberger se aanvanklike navraag oor wat die oorsaak was (en is) van Louis Trichardt se modderige drinkwater, het die Vhembe Distriksmunisipaliteit met ‘n verduideliking vorendag gekom.
Volgens mnr. Matodzi Ralushai, woordvoerder vir die distriksmunisipaliteit, is die probleem veroorsaak deur ‘n lek op die pyplyn na die Mowcop reservoir. Dié lek, sê hy, is op 14 Maart herstel.
“As gevolg van die waterbeperkings word die pompstasies met tussenposes aan- en af geskakel … Tydens hierdie aan- en afskakeling is daar opwellings in die pyplyn wat veroorsaak dat modder en vuil water in die pyplyn ingesuig word,” het Ralushai gesê. Volgens hom beland hierdie vuil water dan in die reservoir en uiteindelik by die gebruiker.
Die groot vraag aan Ralushai was egter of hierdie vuil water veilig is om te drink.
“Die water is veilig om te drink. Daar word aan al die noodsaaklike gehaltetoetse voldoen,” het Ralushai gesê. Volgens hom is die sediment in die water bloot die lym-agtige afsaksels van die modder. Heelwat lesers het egter aangedui dat hulle eerder nie die kans gewaag het om ‘n sluk van die water te neem nie.
Oor wanneer die vuil water uiteindelik uit die sisteem sal wees, het Ralushai gesê dit kan ‘n rukkie neem. “Ons span is besig met die spoeling van die lyne,” het Ralushai gesê.
Dat die Vhembe Distriksmunisipaliteit wel besig is om lekke op die hooftoevoerlyn vanaf die Albasinidam te herstel, is plek-plek sigbaar. Alhoewel hul ywer prysenswaardig is, is daar egter steeds dinge wat pla.
Mnr. Jan Louw van die plaas Nooitgedacht het verlede Donderdagoggend opgemerk hoe munisipale werkers besig is om ‘n seksie van die pyplyn op die padreserwe tussen sy plaas en die pad na Thohoyandou oop te grawe om ‘n lekkasie te herstel. “Ek het gestop en vir hulle mooi in hul eie taal gevra om asseblief nie my heiningdraad te beskadig nie, want ek het bees in daardie kamp. Hulle het onderneem om versigtig te wees,” sê Louw.
Die Donderdagmiddag het Louw besluit om maar net te gaan seker maak sy heiningdraad was nie beskadig nie. Tot sy misnoeë het hy gevind dat die laaigraaf-operateur tonne grond bo-op sy heiningdraad gegooi het, tot so ‘n mate dat die heiningdraad gebreek en plat op die grond gelê het.
“Wie gaan betaal as my beeste uitkom en iemand jaag in hulle vas? Ek het versekering hiervoor, maar dit kan nie iemand se lewe vervang nie,” het Louw gesê.
Kort na die Zoutpansberger se aankoms by die gebreekte heining, het ‘n bakkie daar gestop met ‘n paar munisipale werkers. Toe Louw vir hulle vra wie sy heiningdraad gebreek gebreek het, was die antwoord: “Dis daai mense van Vhembe.”
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
