ADVERTISEMENT:

 

Wyle Leslie Oberholzer (14 Mei 1942 – 25 Februarie 2012).

Oom Les se stem stil

 

News  Date: 26 March 2012

 

'n Oud-inwoner van die streek, mnr. Leslie Oberholzer, is tot op 69-jarige ouderdom aan sy familie en vriende geleen. Hulle betreur sy heengaan op 25 Februarie vanjaar.

Les is op 14 Mei 1942 op die plaas Driehoek by Waterpoort gebore. Boerdery was maar altyd deel van sy lewe en hy het op Driehoek, Mopani Ridge en Mountain View geboer, plase wat vroeër aan die Oberholzers behoort het. Hy was werksaam by die spoorweë, wat veroorsaak het dat hy moes rondskuiwe, maar die Bosveld en sy reuse kremetartbome het hom altyd teruggelok.

Inwoners van Louis Trichardt sal ook sy gesig onthou by Huntsmen Butchery, wat hy saam met sy seun, Charl, bedryf het. Oom Les was alombekend met sy rooi besemsnor en sagte oë. Sy uitgebreide kennis en lewenservaring het almal aan sy lippe laat hang en sy lewenswysheid word nie aldag in boeke gevind nie.

Oom Les was hoog geag deur die Vendas, ook die koninklikes. Hy het magtiging gehad om in hul heilige woud in te gaan in die gedeelte waar koninklikes begrawe word. Hy het die Venda-taal vlot gepraat en het ook as tolk in die hof gedien.

Langs die kampvuur, met sy pap en inkomaazi, of langs die viswaters sou jy oom Les vind. Wild en jag was sy voorliefde.

“Pa, u voetspore lê wyd en syd. Die gemis van u teenwoordigheid is reeds so groot, so kry jagvelde en hou die visstokke reg vir as ons weer ontmoet,” sê Charl.

Les se groot liefde was sy vrou, kinders en kleinkinders. Sy eggenote, Serah, skryf van sy groot liefde vir haar en die wonderlike lesse wat hy vir hulle almal geleer het. Hy is oorlede in Randfontein en die gedenkdiens vir sy lewe is gehou in die Pinkster Protestante Kerk, Randfontein. Hy laat sy eggenote, drie seuns, Coert, Charl en Les junior, dogter, Madelyn, pleegseun Hein, en nege kleinkinders agter.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines