ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike avonturier se lewensdroom word waar

 

News  Date: 12 September 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Ekspedisie van 20 020 kilometer, van die Kaap tot by die hawe in Hamburg, is deur Dave van Graan en twee ander Suid-Afrikaners aangepak om 'n lewensdroom te bewaarheid. Die ekspedisie het hulle 120 dae geneem en hulle het op 2 September weer op eie bodem geland. Dave van Graan van Masazane Ekspedisies op Louis Trichardt, het met twee 4x4-voertuie van Afrika na Europa gereis. Dave het in 2001 'n soortgelyke ekspedisie na Londen voltooi.

"Ons het min probleme met die voertuie ondervind," sê Dave. "Een van die voertuie het glad nie eens 'n pap wiel gehad nie." Die roete wat die avonturiers deur Afrika gevolg het, het verskeie lande ingesluit, soos Suid-Afrika, Zimbabwe, Zambië, Tanzanië, Kenia, Ethiopië, Sudan en Egipte. Vanaf Egipte is die voertuie na Napels in Italië verskeep. Die roete het verder noord gegaan deur Oostenryk en daarna deur Duitsland tot by die hawe in Hamburg, waarna die voertuie na Suid-Afrika verskeep is. Dave vertel van 'n paar hoogtepunte.

"Die honderde olifante by die watergate in die Hwange Nasionale Park in Zimbabwe was definitief 'n hoogtepunt. Ons was ook gelukkig om die baie skaars waterkoedoe (Sitatunga) in die Kasanka Nasionale Park in Zambië te sien. In Tanzanië het ons na die Mahale Nasionale Park gevlieg om die sjimpansees in hulle natuurlike omgewing te sien."

Hulle het ook die toer spesiaal so beplan om die wildebees (bearded Gnu) migrasie in die Serengeti te aanskou.

"Wat 'n gesig was dit om die miljoene wildebeeste, sebras, Thomson's gazelle, Grant's Gazelle en die roofdiere soos leeus en hiënas te sien," sê Dave. Hulle het die Simien wolf, 'n ware wolf en familie van die Siberiese wolf, te siene gekry in Ethiopië in die Bale Berg Nasionale Park. Hierdie gedeelte was ook die hoogste punt van hulle ekspedisie, met 'n hoogte van 4 011m bo seespieël. In Ethiopië het hulle ook die Lalibela kerke gesien wat uit soliede rots gekap is. Vanaf die snikhete Sudan, met 'n temperatuur van 53ºC, het hulle by Wadi Halfa "net" drie dae gewag vir 'n "veerboot" na Aswan in Egipte. "In 2001 het ek veertien dae gewag voordat daar 'n boot opgedaag het," onthou Dave.

"Die 'veerboot' het egter geen geriewe nie en 'n mens slaap op die oop dek." In Egipte het die driemanskap bekende toeriste aantreklikhede soos die Piramides van Gaza en die Sphinx in Kairo besoek, asook in die Rooisee geswem en diepsee vis gevang. Na die vlug Napels toe is plekke soos Pompeii besoek. Europa se strande was egter baie vol weens hul somervakansie. Dave wag tans vir sy voertuig wat vanaf Hamburg oppad is.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines