

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 March 2012
Hier van 80-jarige ouderdom af waardeer jou hart nie meer skielik skokke nie, veral nie om by die huis te kom en te sien iemand het hulself gehelp aan jou besittings nie.
Dit is presies die skok wat vir die 83-jarige oom Danie Lourens van Munnikstraat in Louis Trichardt gewag het.
Die afgelope tyd sukkel oom Danie maar met die gesondheid, in so ‘n mate dat sy dogter, Ann, daarop aangedring het dat hy eerder in die aande by hulle moet kom oorslaap.
So besluit, so gedoen. In die dag is oom Danie, ‘n duiweboer en skrynwerker van formaat, nog heel bedrywig by die huis en in die aand by sy dogter.
“Saterdagaand het ons nog my kerkklere kom haal en daar was niks fout nie. Sondag ná kerk het ek en Ann gou die duiwe kom kosgee, maar is nie die huis in nie. Daarna is ek na die Rotariërs se ete vir senior burgers by die gholfklub toe,” vertel Oom Danie. Hy geniet dit om op sy oudag met sy vrinne te gaan uiteet en mis omtrent nooit die Gister-se-Jeug byeenkomste Dinsdagoggend nie.
Met sy terugkoms ná die ete kom die skok ... die eerste aanduidings was die oop venster by die kombuis.
“Hulle het eers daar probeer binnekom, maar kon nie die diefwering breek nie,” sê Oom Danie.
Terwyl hy by die agterdeur gewag het, het Ann binne gaan ondersoek instel ... ja, hulle het ingebreek. Die diefwering voor sy kamervenster is uitgeruk en sy hele huis was besaai met besittings. Elke laai en hangkasdeur was oop.
En toe nog ‘n skok ... ‘n oop geweerkluis met die sleutel nog in die deur. Oom Danie sê hy weet nie waar dié sleutel vandaan kom nie, maar nou het hy ‘n ekstra een.
Buiten vir drie handwapens wat nie meer daar was nie, is Oom Danie se grootste hartseer sy lêer met versameling proefmunte wat ook nie meer daar was nie (Snaaks genoeg, sy .22-geweer is ongesteurd gelos, asook ekstra ammunisie vir die .22 en ander gesteelde handwapens).
“Ek kan nie vir jou sê wat my skade is nie, want ek kan dit nie omsit in geld nie,” sê Oom Danie, met verwysing na die vermiste lêer proefmunte. Sy versameling het ingesluit pennies van 1880 tot 1960, insluitend die rare 1914 pennie. Dan was daar die tiekies, onder meer ook die skaars 1931 tiekie. Ook deel van sy versameling was ondermeer silwer Kruger-proefmunte. Waaroor hy die hartseerste is, is egter oor ‘n gewone ou tiensjieling-noot.
“Met my eerste salaris van 1 pond 10 sjielings in Julie 1947 het ek die tiensjieling-noot vir my oorlede ma gegee. Sy het vir my gesê ‘Kind, bêre dit, want solank jy dit bêre sal jy altyd geld hê.’ Van toe af bêre ek dit en nou is dit weg,” vertel Oom Danie. Later meld hy dat hy selfs sy naam daarop geskryf het – onvervangbare sentimentele waarde.
Oom Danie sê hy is nie seker oor wanneer daar presies ingebreek is nie – of dit Sondagnag was of toe hy by die ete was. Wat hy vreemd vind is dat, buiten vir die handwapens en muntversameling, daar absoluut niks anders gebuit is nie. Die slotte by sy buitekamers is ook oop geforseer, maar niks is gebuit nie.
“Duidelik was hulle nie dors nie, want my drankkabinet was onaangeraak,” sê Oom Danie.
Intussen het Oom Danie besluit om maar weer “terug te trek” huis toe.
“Ek is nou hier om te bly in my huis. As hulle my hier wil uitkry, sal hulle my voete eerste moet uitdra,” skerts Oom Danie. Tog is daar ‘n erns in sy stem.
Oom Danie het enige iemand wat dalk inligting het oor sy vermiste versameling proefmunte versoek om hom asseblief te skakel by tel. 072 657 1501.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
