

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 March 2012
‘n Gru-botsing op die N1-noord het verlede Vrydag twee families van Louis Trichardt gebroke gelaat, nadat beide geliefdes aan die dood moes afstaan.
“Maak nie saak wat gebeur het nie ... dit was ‘n ongeluk. Ons is hartseer dat nog ‘n familie van Louis Trichardt betrokke moes wees. Ons innige medelye aan die Lubbe-familie ... Hulle het ‘n kind verloor.”
Dit was die woorde van mnr. Johan Nagel wie sy ma, die 70-jarige mev. Petra Nagel, weens die ongeluk aan die dood moes afstaan. Sy was vanaf Polokwane onderweg na Louis Trichardt, toe sy in ‘n tromp-op botsing met die Lubbe-familie, wat vanaf Louis Trichardt na Polokwane gereis het, betrokke was. Die ongeluk het net ná 15:00 te midde van gietende reën en swak sig op die N1 naby die Roodewal Bombaan plaasgevind.
Die 21-jarige Benadine Lubbe is op slag dood in die botsing. Haar ouers, Bernie (44) en Rista (42), asook haar jonger suster Salomé (17), is per ambulans deurgejaag na die provinsiale hospitaal in Polokwane. Petra is na dieselfde hospitaal gehaas, maar is met haar aankoms dood verklaar.
Rista se linkerarm is sleg gebreek tydens die ongeluk. Bertie het op sy beurt bors- en longbeserings opgedoen, terwyl Salomé se linkerarm uit sy potjie geruk is. Teen druktyd was aldrie nog in die hospitaal vir mediese behandeling en observasie. Rista het reeds Saterdag ‘n twee-uur-lange operasie ondergaan om die ergste skade aan haar arm te probeer herstel. Intussen het medici nog gewag dat die ergste swelling en bloeding bedaar, alvorens hulle aan Salomé se arm kon werk. Sy sou Woensdag geopereer word.
‘n Familievriend, mev. Schiela Botha, het Dinsdag gesê die Lubbe-gesin is uit die aard van saak platgeslaan oor die verlies van hul dogter. Botha self moes nog teen die trane stry. Haar seun, die 27-jarige Tok, het op trou gestaan met Benadine. Die paartjie sou in Mei in die huwelik getree het. Bernadine het saam met Tok by Limpopo Melkery gewerk.
Die Nagel-familie is eweneens gebroke oor Petra se dood. Johan het Dinsdag vertel dat sy ma glad nie pyn of trauma kon hanteer nie.
“Dit is vir ons wreed dat sy op so ‘n manier van ons weggeneem is,” het Johan gesê. Hy het haar beskryf as ‘n liefdevolle mens wat geleef het vir haar kleinkinders en nooit enige iemand skade sou aandoen nie.
Petra word Vrydag, 23 Maart, om 11:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente begrawe. Sy word oorleef deur drie kinders en agt kleinkinders. Die diens sal waargeneem word deur ds. Dopper Erasmus van die NG Kerk Pietersburg Noord-gemeente.
Benadine se begrafnis vind voorlopig Maandag, 26 Maart, om 10:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas, afhangende of haar ouers en suster al uit die hospitaal ontslaan is.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
