

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 December 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Koperdief wat probeer het om met 'n ongeïsoleerde draadtang koperdraad vanaf 'n lewendige kragpaal te steel, is Sondag (1ste) op 'n plaas net buite die dorp doodgeskok.
Die man, wat teen druktyd nog nie geïdentifiseer was nie, het klaarblyklik gedurende die vroeë oggendure teen die kragpaal op die plaas Marandela op die Thohoyandou-pad opgeklim en probeer om 'n stuk koperkabel af te knip. Hy is egter in die proses geskok en het etlike meters verder op sy gesig te lande gekom. Hy is op die toneel dood.
Die voorval het 'n kragonderbreking tot gevolg gehad en met die munisipaliteit se aankoms op die toneel het hulle die man se liggaam langs die kragpaal gevind.
Die Makhado Munisipaliteit het na afloop van Sondag se gebeure hul kommer uitgespreek oor die groot hoeveelheid koperdraaddiefstalle binne hul munisipale area. Hulle het ondermeer verwys na 'n voorval by Madodonga waar 'n elektriese kabel platgeval het. Lede van die gemeenskap het toe die koperkabel gesteel en gaan verkoop. Dit het tot gevolg gehad dat 'n groot gedeelte van die gemeenskap toe vir 'n etlike tydperk sonder elektrisiteit moes klaarkom.
Die munisipaliteit het die diefstal van koperdraad veroordeel en inwoners versoek om koperdiewe aan die polisie uit te wys. Daar is ondermeer opgemerk dat Sondag se gebeure as voorbeeld moet dien vir voornemende koperdiewe om te besef wat die implikasies kan wees van hul aksies.

ADVERTISEMENT:
