ADVERTISEMENT:

 

Wyle Flip Potgieter (67).

Soutpansberg verloor landbou pionier

 

News  Date: 02 April 2012

 

Die streek het een van sy groot landboupioniers en entrepreneurs verloor met die heengaan van die bekende en vindingryke boer, mnr. Flip Potgieter.

Phillipus Johannes Potgieter is op 25 Mei 1944 in Louis Trichardt gebore. Hy was ‘n leerling van Hoërskool Louis Trichardt tot en met Standerd 7 en het die res van sy skoolloopbaan voltooi aan die Brits Landbouskool.

In 1960 het Flip saam met sy pa op die plase Fleurfontein en Vlakfontein begin boer. Hulle het begin ontbos en avokadobome aangeplant. Saam het hulle die avokado pakhuis, Avoridge, gevestig en later ook na die buiteland begin uitvoer.

“Boerdery was my pa se passie en hy het dit met ywer aangepak, soos net hy kon. Hy was ‘n intelligente boer met ‘n visie en niks sou hom keer om dit uit te voer nie. Hy het met baie min begin en was baie suksesvol en kon trots wees op die uitstekende verpakkingsdiens wat hy aan boere in die omgewing bied,” sê sy seun, Phillip.

Ná die groot vloede in 2000 het Flip ‘n nuwe visie gehad. Hy wou ‘n neutfabriek en ‘n dieselaanleg bou. Hy het ook mettertyd  begin om macadamiabome aan te plant. Phillip het in 2003 saam met hom begin boer.  Hulle het ‘n neutfabriek tot stand gebring en voer nie alleen neute uit nie, maar pers ook self hulle eie olie.  Die olie wat nie verbruikerskwaliteit is nie, word gebruik om bio-diesel op die plaas te vervaardig. Dit is onlangs deur VW SA goedgekeur vir verbruik. Flip en Philip is in 2011 deur die Soutpansberg Sakekamer aangewys as entrepreneurs van die jaar.

“Vir Flip het dit nie oor selfverryking gegaan nie, maar oor werkskepping, en Avoridge en Macridge getuig hiervan. Flip was ‘n ware entrepreneur en hy het baie reggekry in sy leeftyd. Tog was hy nederig en goed vir ander mense,” sê die familie.

Flip was een van die stigterslede  en ‘n aktiewe lid van die Agapé Christensentrum in Louis Trichardt. Hy het ook  ‘n kerk op die plaas gebou, waar daar elke Donderdagaand ‘n diens vir die arbeiders gehou is.

Perdry was ‘n groot liefde van Flip, wat ‘n Arabierstoet gehad het. Hy het aan gymkanas, dressages en springkompeitisies deelgeneem  en in die proses ‘n goeie ruiter van die skoner geslag, Marcia Fourie, ontmoet. Hulle is op 30 Oktober 1971 getroud. 

“Dankie dat jy my en ons drie kinders aan Jesus Christus voorgestel het en dat ons die pad saam met jou kon stap en nou stap ons kleinkinders ook in dieselfde voetspore!  Wat ‘n voorreg!” is Marcia se woorde op die begrafnisbrief.

Marcia was altyd aan Flip se sy en het met groot liefde en geduld na hom omgesien tydens sy siekte.

Flip is in September 2009 met kolonkanker gediagnoseer en het vir twee jaar chemoterapie en bestraling ondergaan. In Junie 2011 is hy skoon veklaar. Na twee maande  het die kanker egter teruggekeer en versprei. Ná net een chemobehandeling het Flip gekies om ‘n kwaliteitslewe te hê en sy laaste dae saam met sy familie deur te bring. Hy is op 20 Maart oorlede.

“Dis nie elke persoon wat kan sê dat hy tuis, met sy vrou en drie kinders om hom, heengegaan het nie. Phillip het gebid. Dit was baie spesiale oomblikke,” sê sy dogter Alicia.

Wyle Flip laat sy eggenote, Marcia, drie kinders, Philip, Chantal en Alicia, asook 6 kleinkinders agter. Die gedenkdiens vir sy lewe is op 24 Maart deur pastoor Sampie van Niekerk in die Agapé Christensentrum waargeneem.

Die familie bedank graag  pastoor Sampie en Dalene van Niekerk en die gemeentelede van Agapé vir hul uitsonderlike ondersteuning, en die gemeenskappe van Levubu en Louis Trichardt vir hulle wonderlike bystand.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines