ADVERTISEMENT:

 

generic image

Moenie landbou die melkkoei maak nie

 

News  Date: 04 April 2012

 

Georganiseerde landbou het gereageer op die feit dat Louis Trichardt ‘n verklaarde groeipunt is wat in 2025 ‘n stad behoort te wees, asook op die nuut-voorgestelde missie van die Makhado Munisipaliteit.

“Die groeipunt is goeie nuus vir die produsent, omdat daar genoeg mense sal wees om landbou se produkte te gebruik. Die gebied het die potensiaal om selfvoorsienend ten opsigte van voedselproduksie van vrugte, groente en vleis te wees, ongeag ‘n toename in die getal mense,” het die Soutpansberg Distriks Landbou-unie (DLU) voorsitter, mnr. Stephen Hoffman, laas week gesê.

Hoffman sê dat landbou se groot waarde in sy vermoë lê om 'n netto invloei van kapitaal in die gebied te bewerkstellig. Produkte word gelewer op die nasionale en internasionale markte en so word geld van buite Limpopo  ingebring vir spandering by plaaslike besighede.

Die Makhado Munisipaliteit se nuwe voorgestelde konsep missie is “om te verseker dat die ekonomiese bronne effektief benut word om sosio-ekonomiese imperatiewe aan te spreek deur mynbou, toerisme en landbou." In die konsep-missie word landbou en mynbou in een asem genoem. Landbou is egter in direkte kompetisie met mynbou vir grond en water.

"Die groot verskil is volhoubaarheid. Mynbou kan dalk vir 30 jaar ekonomies aktief wees, aan 'n klompie mense werk verskaf en sy winste alles uit die gebied wegneem vir sy aandeelhouers. Dis 'n netto negatiewe kapitaal invloei vir ons gebied. Na 30 jaar, wanneer die myn uitgedien is, is die water besoedel en die grond onbruikbaar vir landou. Dit staan in skrille kontras met landbou se vermoë om volhoubaar vir 100 jaar en veel langer te kan bly produseer en werk te verskaf, sonder permanente skade aan die natuurlike hulpbronne, terwyl dit toeganklik bly vir natuurliefhebbers en toeriste,” sê Hoffman.

Kommersiële landbou word gesien as 'n volhoubare praktyk wat 'n gebied vir 'n onbepaalde periode kan bedien met voedsel, werkverskaffing en gemeenskapsontwikkeling. “Landbou wil nie as 'n melkkoei gebruik word nie. Moenie landbou skade berokken deur korttermyn finansiële munt uit landbou te probeer slaan deur dit bokant sy vermoë te probeer belas,  terwyl sy fondament (elektrisiteit, water, goeie paaie, gesonde werkers en eiendomsreg) stelselmatig vernietig word nie,” sê Hoffman.

Landbou is die grootste verbruiker van elektrisiteit binne die munisipale area en dit vorm 'n wesenlike deel van die munisipaliteit se inkomste.

“Ongelukkig is die instandhouding op hoogspanning distribusielyne uiters swak. Dit veroorsaak dat ons ongelooflik baie en lang onderbrekings op ons kragvoorsiening ervaar. Na elke fluktuasie in spanning (power dips) moet alle pompe en motors weer aangeskakel word. Pakhuise gaan staan en moet van voor af in bedryf gestel word. Landbou vra stabiele kragvoorsiening teen 'n billike tarief,” sê Hoffman. Met water as hul kosbaarste hulpbron, het Hoffmann die munisipaliteite gemaan om verantwoordelik daarmee om te gaan en te keer dat water besoedel raak.

Laastens het Hoffman gewaarsku dat hulle slegs bereid is om vir munisipale dienste te betaal nadat daar op sekere dienste waarvoor daar 'n behoefte bestaan, ooreengekom is, die standaard van dienslewering vasgestel is en daar op die tarief ooreengekom is.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines