ADVERTISEMENT:

 

Die P&L Hardeware Fietsryklub in Louis Trichardt is onder nuwe bestuur. Van links na regs staan Stanley Thompson (voorsitter), Koos Engelbrecht (ondervoorsitter), Marius Smit, Thys Beukes, Renata Joubert, Paula Ströh (sekretaresse), Mark Archer en André Prinsloo (P&L Hardeware verteenwoordiger). Afwesig tydens die neem van die foto was Melinda Prinsloo (tesourier), Japie van Heerden en Carel Killian. Met nege weke oor tot vanjaar se Kremetart Fietswedren, is die klub druk besig met die finale reëlings. Goeie nuus is dat Jacaranda 94.2 en Jacaranda RMFM hulself vir die volgende drie jaar verbind het as hoof mediavennoot van hierdie gewilde wedren. Foto verskaf.

Nuwe bestuur het heelwat nuwe planne

 

News  Date: 09 April 2012

 

Tydens ‘n spesiale jaarvergadering van die P&L Fietsryklub in Louis Trichardt is ‘n nuwe uitvoerende komitee verkies.

Stanley Thompson is verkies as voorsitter, met Koos Engelbrecht wat die amp as ondervoorsitter sal beklee. Die tesourier is Melinda Prinsloo en Paula Ströh die klubsekretaris. Die res van die komitee bestaan uit  Marius Smit, Thys Beukes, Renata Joubert, Mark Archer, Japie van Heerden, Carel Killian en André Prinsloo (P&L Hardeware verteenwoordiger).

Die nuwe komitee is dit eens dat dit hul prioriteit gaan wees om fietsryers van alle fiksheidsvlakke by die klub betrokke te kry.

“Enige fietsryer, of potensiële fietsryer, is welkom om in te skakel by klubritte en ander aktiwiteite. Selfs persone sonder fietse en wat nog nie klublede is nie, word genooi om saam te kom kuier en te sien wat ons tydens die klubritte doen,” nooi die nuwe bestuur. Die ritte begin Saterdae om 14:00 by hul klubhuis by die gimnasium by Hoërskool Louis Trichardt.

Koos sê die klub onderneem om alle fietsryers te akkommodeer en selfs beginners sal touwys gemaak word en groepe van dieselfde fiksheidsvlakke sal saamry en ondersteun word.

Intussen is die klub besig met finale reëlings ten opsigte van hul uiters gewilde jaarlikse Kremetart Fietswedren vanaf 8 tot 10 Junie. Die Soutpansberg speel oor nege weke weer gasheer vir hierdie groot sportgebeurtenis, wat jaarliks meer as 1000 inskrywings lok, ingesluit van die top name en spanne in Suid-Afrikaanse fietsrykringe. Buiten vir PPC Sement se R1 miljoen borgskap aan die Kremetart oor drie jaar, is die verdere goeie nuus dat Jacaranda 94.2 en Jacaranda RMFM ook hulself vir drie jaar verbind het as hoof mediavennoot van hierdie gewilde wedren.

Met die groot invloei van fietsryers en hul ondersteuners oor die naweek, is akkommodasie elke jaar ietwat van ‘n tameletjie. Derhalwe het die klub almal wat ekstra akkommodasie vir die naweek beskikbaar kan stel, versoek om so spoedig moontlik met hulle te skakel. Die tyd raak ook min vir mense om stalletjies te bespreek. ‘n Uitstalruimte kos R300 vir drie dae (vanaf Vrydag tot Sondag ná die bergfiets-afdeling).

Om akkommodasie aan te bied, ‘n stalletjie te bespreek of vir meer inligting oor die klub, skakel Stanley by 082 493 3897, Koos by 082 490 6013, Mark by 083 324 8495 of Paula by 015 516 1228.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines