ADVERTISEMENT:

 

Wyle Chris Möller. Foto verskaf.

Man dood nadat hy ná ongeluk probeer help

 

News  Date: 09 April 2012

 

Nog ‘n familie van Louis Trichardt is vandeesweek in rou gedompel nadat ‘n tragiese ongeluk op die N1-noord die lewe van ‘n geliefde geëis het.

“Ons sukkel om sy skielike dood te verwerk … sy vrou is gebroke.”

So het me. Vanessa Dunhil vertel oor haar 32-jarige broer, mnr. Chris Möller, wie sy aan die dood moes afstaan na ‘n ongeluk Sondagaand. Chris was veral bekend onder nooddienswerkers uit die aard van sy werk. Hy was ten tye van sy dood werksaam by Sans Souci Insleepdienste op Louis Trichardt.

Hy was op pad terug van sy tannie se begrafnis in Polokwane na Louis Trichardt, toe hy ‘n bees getref het naby Matoks. Die ongeluk het omstreeks 19:00 plaasgevind.

Chris se vrou, Meraai, sy kinders Christiaan (6), Linde-Lee (1) en Meraai se seun Jan (16), en Chris se ma Annatjie, was ook by Chris in sy bakkie.

Met die trefslag het Chris afgetrek en langs die pad stilgehou om na die skade aan die bakkie te kyk. Die deur aan sy kant kon nie oop nie. Hy is met ‘n flits in die hand by die passasiersdeur uit om die verkeer te help reguleer. Die bees het in die teenoorgestelde baan beland en verkeer belemmer.

Die bestuurders van twee voertuie het Chris sien beduie en stadiger gery om die bees se karkas te vermy. ‘n Derde voertuig het egter dié twee voertuie teen ‘n hoë spoed verbygesteek en Chris getref. Meraai en Jan het buite langs die bakkie gestaan toe Chris getref is. Hy het veelvuldige inwendige en kopbeserings opgedoen.

Chris is eers na die hospitaal in Matoks gevat waar hy gestabiliseer is, voordat hy per ambulans deurgejaag is na die hospitaal in Polokwane. Hy is onderweg dood verklaar.

“Dit was net te skielik,” het Dunhil gesê. Sy het bygevoeg dat as Chris die ongeluk sou oorleef het hy dit as 'n fratsongeluk sou beskryf het. "Hy sou nie iemand kwalik geneem het nie."

Chris sal Woensdag, 11 April, om 11:00 vanuit die AGS Kerk begrawe word. Hy word oorleef deur sy vrou, kinders, ma en suster.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines