

ADVERTISEMENT:

News Date: 29 November 2002
KLEIN-LETABADAM – Drie inwoners van Levubu het die naweek ternouernood 'n waterdood ontkom in 'n laatnag drama op 'n stormwind geteisterde Klein-Letabadam.
Die onwrikbare toewyding van 'n sorgsame oupa en die onverskrokke, asook desperate waagmoed van sy seun, wat bykans twee kilometer ver deur die ysige golwe moes swem, was grotendeels die behoud van die drie slagoffers van 'n siedende stormwind en woeste golwe op die dam.
Die eienaar van die woonwapark by die dam, mnr. Johan Nel, het vandeesweek vertel van die vier uur lange drama en heldhaftige reddingspoging wat Saterdag tot na middernag voortgeduur het.
Die driemanskap, mnr. Corrie Nagel, sy seun Donald en kleinseun Darion, almal van Levubu, het angsvolle ure beleef toe 'n idilliese visvang-uitstappie onverwags omgekeer is in 'n stryd om lewe en dood.
Volgens mnr. Nel het die klein geselskap Saterdagmiddag laat by die dam aangekom en was van plan om in hul boot op die dam te slaap. Hulle het ingevaar en die boot tussen twee bome vasgemaak en 'n seil bo-oor gespan.
"Omstreeks sewe-uur die aand het 'n erge wind opgekom. Dit was 'n onverwagte en baie sterk wind. Ons het hulle lig gesien brand op die water en het gedink hulle is oorkant vasgeanker. Die eerste aanduiding van hul ernstige nood was toe Donald omstreeks 23:15 sowat l.2km in die donker uitgeswem het na die kant. Hy het in 'n uitgeputte toestand, na 'n nagmerrie swem wat nagenoeg twee ure geduur het, die kant gehaal, uitgestrompel en hulp ontbied. Die lig wat ons gesien het was waar sy pa en sy suster se sesjarige seuntjie desperaat aan 'n boomtak gehang het, nadat die seil plat gewaai en die groot golwe die boot gevul het. Die watermassa in die boot het dit laat omkantel."
Mnr. Nagel senior het klein Darion met sy een arm bo die water gehou en met die ander aan die boomtak vasgeklou. Om te verhoed dat Darion dalk meegesleur word wanneer sy arms moeg word, het hy hom met 'n tou aan die tak vasgemaak.
Onmiddellik nadat Donald die kant bereik het om alarm te maak, is 'n boot vinnig uitgestuur om hulle te gaan red.
"Hulle het vir bykans drie en 'n halwe uur so aan die boomtak gehang. Hulle was in 'n ernstige toestand van skok en uitputting en byna heeltemal verkluim. Ons het met die boot teruggestoot tot by hulle. Terug op land het ons hulle by my woonhuis vir bykans twee ure moes bystaan om te herstel van die ysige koue en uitputting. As die seun nie uitgeswem het nie, was al drie vandag weg. Ek dink die oupa het bloot kon uithou weens sy besorgdheid oor sy kleinkind," het mnr. Nel gesê.
Die boot is die volgende oggend uitgehaal met al die besittings daarop.
Drie mense het verlede Desember in die dam verdrink, nadat hulle boot in soortgelyke weerstoestande omgeslaan het.
Corrie en Donald was Maandag reeds terug by hul werk.

ADVERTISEMENT:
