ADVERTISEMENT:

 

generic image

Ystervuis het wel stabiliserende effek

 

News  Date: 16 April 2012

 

Mnr. Doors le Roux, voorsitter van TLU SA Noord Veiligheidskomitee, het plaas- en dorpswagte, asook ander betrokkenes, bedank vir hulle deelname aan ‘n uiters geslaagde Operasie Ystervuis.

Met die buitengewoon hoë misdaadvlakke as agtergrond, het die reeds-bekende provinsiale veiligheidsaksie op 5 April 2012 plaasgevind. Hoë-digtheidspatrollies en statiese sigbaarheid het die boodskap tuisgebring dat die plaaswagte van TLU SA Noord en die SAPD in Limpopo misdaad op die platteland ernstig opneem en daarop sal reageer. Die doelwit van die aksie was om die SAPD op die platteland met misdaadvoorkoming behulpsaam te wees. Aanvanklik, byna 10 jaar gelede, het Operasie Ystervuis afgeskop en is slegs in Desember van elke jaar gehou. As gevolg van die groot sukses daarvan is besluit om Operasie Ystervuis uit te brei en ook die aksie tydens Paasfees te hou.

Le Roux het gesê dat die plaaswagte asook die dorpswag in staat is om misdaadvlakke te stabiliseer. “Operasie Ystervuis is ‘n poging om dit so te hou. Die terugvoer van bronne dui daarop dat Operasie Ystervuis wel ‘n stabiliserende invloed op daardie gebied uitoefen waar die plaaswagte goed funksioneer,” het Le Roux gesê.

Hy was veral opgewonde oor die groot aantal jongmense wat by Operasie Ystervuis betrokke was. “Dit het weereens gewys dat, diep binne, elkeen weet waar sy wortels lê. ‘n Welkome verantwoordelikheidsin is besig om hom tuis te maak by ons jongmense en dit het  meegehelp om Operasie Ystervuis so ‘n groot sukses te maak,” het Le Roux gesê. Hy het alle inwoners van Noordstreek aangemoedig om betrokke te raak en aan die belangrike aksie deel te neem.

“Die mandaat van die plaaswagstelsel is eenvoudig, duidelik en onbeskaamd: Om lewe en eiendom te beskerm. Daarom het plaasbewoners geen ander keuse as om self, op ‘n verantwoordelike manier, eienaarskap te neem vir die beskerming van lewe en eiendom nie,” het Le Roux gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines