

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 April 2012
Die skrikbewind wat rowers in Louis Trichardt voer is steeds aan die toeneem.
Nog twee sakemanne van die dorp is die afgelope Paasnaweek op ‘n gewelddadige wyse aangeval en van duisende rande beroof.
In die eerste voorval is mnr. Gerald Marallich reg voor sy kantoor in Krugerstraat gekaap. Dié voorval het Sondagmiddag plaasgevind. Marallich was op pad terug na sy bakkie, nadat hy stilgehou het om die hek oop te maak.
Drie mans wat daar naby rondgestaan het, het Marallich aan die polisie vertel, het nader gestorm en hom oorrompel. Een van die kapers was gewapen met ‘n lang mes. ‘n Struweling het ontstaan, waartydens Marallich se bril van sy gesig afgeslaan is.
Half verdwaas en verblind moes Marallich hulpeloos staan en toekyk hoe die drie kapers wegjaag met sy bakkie. Meer onrusbarend was die feit dat die dag se wins van sy besigheid in Elim voor in die bakkie was. Marrallich was juis op pad om dié geld in die kantoorkluis toe te sluit voor hy oorval is.
Die kapers het nie ver gevorder met Marallich se bakkie nie. Met die hulp van die Soutpansberg Dorpswag is die bakkie in Celliersstraat opgemerk. Daar word vermoed dat die kapers besef het dat hulle agtervolg word, waarop hulle die bakkie in die straat gelos het en te voet deur erwe en oor heinings gevlug het. Marallich se selfoon is ook gebuit. ‘n Soektog deur dorpswag- en polisielede na die verdagtes het egter niks opgelewer nie.
‘n Bende rowers het ook by Ayob Motors in Eltivillas toegeslaan.
Die bestuurder van die petrolafdeling, mnr. Jayesh Maheta, is vroeg Maandagoggend in sy kantoor oorval deur twee gemaskerde mans, beide gewapen met messe. Die voorval het ongeveer 08:00 plaasgevind, terwyl Maheta besig was om die vorige dag se geld te tel. Die hele voorval is op die kantoor se sekuriteitskameras vasgevang.
Die beeldmateriaal wys duidelik hoe twee gemaskerde rowers, met wit handskoene, die deur oopskop. Minute later verskyn hulle weer, met Maheta wat hulle tussen hulle sleep-dra.
Hy is na die kantoorgedeelte, waar die rowers aanvanklik ingekom het, gevat waar sy hande en voete vasgebind is. Sy mond het die rowers toegeplak met kleefband (duct tape).
Kort hierna het een rower teruggekom na Maheta se kantoor met 'n sak in die hand. 'n Groot bedrag kontant en Maheta se selfoon is uit sy kantoor gesteel. Die rowers het weer deur die venster, waar hulle ingeklim het, ontsnap.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het by navraag bevestig dat niemand nog in verband met die voorvalle in hegtenis geneem is nie. Hy het 'n beroep gedoen op enige iemand met inligting om die polisie behulpsaam te wees. Inligting kan deurgegee word aan die speurders by tel. 082 319 9638.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
