

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 April 2012
In die jongste voorvalle van inbrake by industrieë in Louis Trichardt is springstof gebruik om slotte oop te kry nadat alarmstelsels verwoes is.
By Danedie in Burgerstraat was ‘n stoorkamer, wat met ‘n ou polisieseldeur toegerus is, die inbrekers se teiken. Hulle het die slot en die staalplate waarmee die eerste deur van die stoorkamer bedek was, weggeblaas. Daar is ook goed gemik om die slot van die stewige seldeur weg te skiet.
“Dit is nog ‘n ou seldeur wat my oorlede pa, Eddie Senekal, jare gelede present gekry het. Die slag was so erg dat dit een nabygeleë deur uit sy kosyn geruk het en ‘n ander deur se slotmeganisme uitgeskiet het. Die seldeur se tralies het egter nie meegegee nie en sodoende is die gasbottel van die sweismasjien binne in die stoorkamer beskerm. As daardie gasbottel ontplof het, was daar groter skade,” sê me. Anel van der Walt, suster van mnr. Pieter Senekal, wat die besigheid saam met sy ma, me. Madie Senekal, besit.
Pieter sê dat die inbrekers presies geweet het wat hulle doen. Hulle het toegang deur die dak verkry regoor die alarmboks. Die alarmstelsel se drade is in die dak geknip. “Hulle het seker gedink die stoorkamer se dik staaldeur is die deur van ‘n inloopkluis,” sê Anel. Die inbrekers het tevergeefs die staalkas binne in die stoorkamer se slot ook afgeskiet. In die stoorkamer was toerusting, maar geen kontant nie.
Die seldeur is juis aangebring om die toerusting te beskerm, nadat die besigheid sowat twee jaar gelede van al hul toerusting beroof is. ‘n Jaar ná die voorval het die polisie al hul toerusting vir hulle teruggevind. “Hierdie keer was ons definitief een van die gelukkiges. Ons hou geen kontant op die perseel nie,” sê Anel. Tog beloop hul skade sowat R15 000.
Die voorval moes tussen Sondagnag en Maandagoggend plaasgevind het. Dieselfde inbrekers het moontlik daarna by Steyn Staal op die aangrensende perseel ingebreek . Volgens mnr. Saki Nel van Steyn Staal het die inbrekers eers ‘n gat in die staal regoor die staalafdeling gemaak.
“Daarna het hulle ‘n gat in die staal by die hardeware kant gemaak, seker op die muur langs geloop en die alarmboks se drade uitgeruk. Hulle het die kas in die administratiewe kantoor oopgemaak en nie geld daar gekry nie. Die hele winkel het vol afgeskeurde omhulsels gelê soos wat hulle ons eie gereedskap gebruik het om slotte oop te maak,” sê Nel. Nadat hulle die deur van die vertrek waarin die kluis is, se slot met gereedskap oopgemaak het, het hulle die kluis se deur met springstof afgeskiet en die kluis het van die muur afgeval.
“Hulle is weg met sowat R30 000. Ons het nog nie ‘n beraming van die koste van die herstel van die res van die skade nie,” het Nel gesê.
Kaptein Maano Sadiki van die SAPD het in ‘n kort polisieverklaring gerapporteer dat die Makhado polisie die sake ondersoek. Hy het gemeld dat die beweerde gebruik van springstof ook ondersoek word.
“Die georganiseerde misdaadeenheid van Polokwane was hier en dit lyk of hulle die saak gaan ondersoek omdat dit moontlik ‘n sindikaat se werk is,” sê Pieter. Daar is ook genoem dat dit die negende voorval van hierdie aard in die omgewing is.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
