

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2002
LOUIS TRICHARDT – Kommer is aan die toeneem oor die Makhado Munisipaliteit se skynbare uitermatige besteding, veral gesien in die lig van hul nuutste plan om 'n huis vir die burgemeester aan te koop teen 'n bedrag van R1,8 miljoen. Die woning, geleë in Snymanstraat, beskik ondermeer ook oor kantoorfasiliteite.
Volgens amptelike raadsdokumente is dit standaard praktyk vir munisipaliteite om amptelike wonings te voorsien aan die burgemeester en munisipale bestuurders. Dit is egter teenstrydig met die Raad se huidige beleidsdokumente, asook wette ten opsigte van Plaaslike Regering, wat slegs verwys na huislenings en -subsidies vir raadslede en –amptenare. Daarbenewens is die praktyk van amptelike wonings vir burgemeesters en munisipale bestuurders reeds in 1990 gestaak. Buiten hiervoor is daar ook nie vir so 'n uitgawe begroot in die 2002/3 begroting nie en is die aankoop van die huis nie geïdentifiseer ingevolge die Raad se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan vir 2002 tot 2007 nie.
Die Raad se voorneme om die woning te koop, volg na 'n aanbod wat deur die eienaars van die woning aan hulle gemaak is. Volgens 'n waardasiesertifikaat is die woning R2 355 000 werd, maar is die eienaars bereid om die woning vir R1,8 miljoen te verkoop. Die aanbod maak ook voorsiening vir rentevrye okkupasie van die perseel vir 'n periode van ses maande teen 'n kapitale terugbetaling van R17 000 per maand. Dit sal klaarblyklik die Raad tyd gee om voorsiening te maak vir die aankoop van die perseel in die 2003/4 kapitale begroting teen 'n verminderde bedrag van R1 698 000. Na wat vasgestel kon word is daar nog nooit 'n residensiële woning in Louis Trichardt vir meer as R1,2 miljoen verkoop nie.
Die raadsdokument noem wel dat die waardasiesertifikaat vir die eiendom nie aanvaar is nie, aangesien dit nie deur 'n geregistreerde waardeerder opgestel is nie. Dit meld verder dat indien die Raad nie die woning kan bekostig nie, hul een van hul uitsoek erwe moet ontwikkel vir dié doeleindes.
Die beoogde aankoop van 'n luukse woning vir die burgemeester is die nuutste van 'n reeks besluite wat besig is om kommer te wek by belastingbetalers ten opsigte van die Raad se klaarblyklike uitermatige en onnodige besteding van belastingbetalers se geld. Die Raad se aanstelling van ses direkteure vroeër vanjaar teen salarispakkette wat die belastingbetaler sowat R2,5 miljoen ekstra 'n jaar uit die sak sal jaag, word as voorbeeld genoem. Tot op hede versuim die Raad om te verduidelik waarom hulle die poste geskep het en wat presies die ses direkteure se werksverpligtinge behels. Aanvullend tot bogenoemde is die Raad se besoeke aan die buiteland. In hierdie stadium beplan die Raad om weer 'n afvaardiging van twaalf raadslede en amptenare na China te stuur vir vyf dae teen 'n koste van sowat R700 000

ADVERTISEMENT:
