

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2002
LOUIS TRICHARDT- Een van die rowers betrokke by 'n inbraak by P&O Meeldepot in Vorsterstraat, is op heterdaad betrap. Die wakker held in die verhaal is 'n sekuriteitsbeampte wat oorkant die straat diens gedoen het.
Twee rowers het op Sondag (17de) die voordeurslotte van die meeldepot met 'n pik oopgekap. Dit het omstreeks 21:00 gebeur. Ongeveer 'n uur tevore het mev. Nella Dercksen die winkel verlaat en alles nog in 'n goeie toestand gevind.
Die rowers het skynbaar eerste op die rekenaar toegesak, dit met 'n groot spoed ontkoppel en die rekenaar met al sy toebehore 'n honderd meter daarvandaan onder 'n boom gelaat. Die twee is toe terug om tabak, batterye en ander kruideniersware in te pak.
Intussen het mnr. Rudzani, 'n wakker sekuriteitsbeampte van ACCD Sekuriteit, onraad bemerk en dadelik die polisie ontbied. Die polisie het flink reageer. Die een rower het die hasepad gekies by die voordeur uit, terwyl die ander rower 'n sleutel vir die agterdeur gehad het. Hy het hom egter lelik misgis, want die ysterhek het sy vlug versper. Die polisie het die agterdeur oopgeruk en ta gevind waar hy sy lyf baie skraal gehou het tussen die ysterhek en die agterdeur.
Skynbaar was die idee dat 'n voertuig die gesteelde goedere onder die boom sou kom optel. Teen Maandag (18de) was die rekenaar en toebehore reeds weer terug in die besit P&O Meeldepot. Dieselfde oggend is daar ook 9mm-patrone op die toneel gevind.
Mnr. Corrie Dercksen sê dat daar 'n maand gelede ook 'n poging tot inbraak was. Die sekuriteitsbeampte oorkant die straat het ook in daardie geval die polisie ontbied. 'n Ruit is stukkend gegooi waarna die diewe weggehardloop het.
Mnr. Niekie Dercksen, bestuurder van die meeldepot, sê dat die vingerafdrukbeampte aan hom gemeld het dat hy op daardie stadium besig was met ondersoeke by tien huisbrake.

ADVERTISEMENT:
