

ADVERTISEMENT:

News Date: 22 November 2002
LOUIS TRICHARDT – Die Makhado Munisipaliteit het die afgelope week 'n effense verslapping ten opsigte van die streng waterbeperkings in die dorp aangekondig.
Die verslapping in die huidige waterbeperkings behels dat inwoners met gelyke straatnommers hul tuine Maandae, Woensdae en Vrydae vanaf 16:00 tot 20:00 mag natgooi met 'n tuinslang, mits die tuinslang in die hand vasgehou word. Inwoners met ongelyke straatnommers kan hul tuine Dinsdae, Donderdae en Saterdae gedurende dieselfde periodes nat maak. Geen spreiers mag gebruik word nie, terwyl tuinslange ook nie gebruik mag word om plaveisel, opritte, vloere, ens. skoon te spuit nie.
Intussen nader die opgradering van die watersuiweringsaanleg by die Albasinidam voltooiing. Buiten vir die opgradering van die watersuiweringaanleg is die munisipaliteit ook besig om hul boorgate op die plaas Nooitgedacht met 'n verdere vyf gate uit te brei. Die projek maak voorsiening vir die toetsing, toerusting en verskaffing van elektrisiteit aan die boorgate. Die konstruksie van 'n 3,5 kilometer hoof pyplyn vorm ook deel van die projek en volgens huidige beplanning sal die sisteem in bedryf wees voor 30 November vanjaar.

ADVERTISEMENT:
